Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

2 Samuel 22

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

2SAM 22:1 En Dawid het die woorde van hierdie lied tot die HERE gespreek op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.
2SAM 22:2 En hy het gesê: Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder;
2SAM 22:3 God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser; van geweld het U my verlos.
2SAM 22:4 Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
2SAM 22:5 Want die golwe van die dood het my omring, strome van onheil het my oorval.
2SAM 22:6 Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom.
2SAM 22:7 Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.
2SAM 22:8 Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.
2SAM 22:9 Rook in sy neus het opgegaan, en 'n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
2SAM 22:10 En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy voete.
2SAM 22:11 En Hy het op 'n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.
2SAM 22:12 En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters, diktes van wolke.
2SAM 22:13 Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.
2SAM 22:14 Uit die hemel het die HERE gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor.
2SAM 22:15 En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.
2SAM 22:16 En die beddings van die see het sigbaar geword, die fondamente van die wêreld is blootgelê, deur die dreiging van die HERE, vanweë die geblaas van die wind van sy neus.
2SAM 22:17 Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, my uit groot waters getrek.
2SAM 22:18 Hy het my verlos van my magtige vyand, van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.
2SAM 22:19 Hulle het my oorval op die dag van my nood, maar die HERE was my steun.
2SAM 22:20 En Hy het my uitgelei in die ruimte, Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.
2SAM 22:21 Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; na die reinheid van my hande het Hy my vergelde.
2SAM 22:22 Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie.
2SAM 22:23 Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge--daar het ek nie van afgewyk nie.
2SAM 22:24 Maar ek was opreg voor Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
2SAM 22:25 So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na my reinheid voor sy oë.
2SAM 22:26 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
2SAM 22:27 by die reine, rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
2SAM 22:28 En U verlos die verdrukte volk, maar u oë is teen die hoogmoediges; U verneder hulle.
2SAM 22:29 Want U is my lamp, o HERE! En die HERE laat my duisternis opklaar.
2SAM 22:30 Want met U loop ek 'n bende storm, met my God spring ek oor 'n muur.
2SAM 22:31 Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
2SAM 22:32 Want wie is God buiten die HERE, en wie 'n rots buiten onse God?
2SAM 22:33 Die God wat my sterk toevlug is, en Hy het vir my 'n weg volkomelik uitgesoek.
2SAM 22:34 Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.
2SAM 22:35 Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms 'n koperboog span.
2SAM 22:36 En U het my die skild van u uitredding gegee, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.
2SAM 22:37 U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie.
2SAM 22:38 Ek het my vyande agtervolg en hulle verdelg en nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.
2SAM 22:39 Ja, ek het hulle vernietig en hulle verbrysel, sodat hulle nie weer opgestaan het nie, maar onder my voete geval het.
2SAM 22:40 En U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders onder my laat buk.
2SAM 22:41 En U het my vyande vir my laat vlug; my haters, dié het ek vernietig.
2SAM 22:42 Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie; na die HERE, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
2SAM 22:43 Toe het ek hulle vermaal soos die stof van die aarde, soos modder van die strate het ek hulle fyngemaal, hulle vertrap.
2SAM 22:44 En U het my gered uit die getwis van my volk; U het my bewaar as 'n hoof van nasies; 'n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
2SAM 22:45 Uitlanders het al kruipende na my gekom; sodra hulle van my gehoor het, was hulle gehoorsaam aan my.
2SAM 22:46 Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
2SAM 22:47 Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God wat die rots is van my heil!
2SAM 22:48 Die God wat my die wraak gee en volke onder my neerwerp;
2SAM 22:49 en wat my uitlei onder my vyande uit; ja, U verhef my bo my teëstanders, U bevry my van die man van geweld.
2SAM 22:50 Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing;
2SAM 22:51 Hy is dit wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com