Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Daniel 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12]

DAN 11:1 En ek, in die eerste jaar van Daríus, die Meder, het ek opgetree as 'n versterking en beskutting vir hóm.
DAN 11:2 En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.
DAN 11:3 Dan sal 'n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil.
DAN 11:4 En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie--want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.
DAN 11:5 En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal 'n groot heerskappy wees.
DAN 11:6 En ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie--hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf het.
DAN 11:7 Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die leër optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees;
DAN 11:8 ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat.
DAN 11:9 Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek.
DAN 11:10 En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en 'n menigte groot leërs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting.
DAN 11:11 Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook 'n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word.
DAN 11:12 As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tien duisende neerslaan, maar nie sterk bly nie.
DAN 11:13 Dan sal die koning van die Noorde weer 'n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met 'n groot leër en 'n groot gevolg.
DAN 11:14 En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om 'n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom.
DAN 11:15 So sal dan die koning van die Noorde kom en 'n wal opwerp en 'n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie.
DAN 11:16 En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is.
DAN 11:17 En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom 'n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie.
DAN 11:18 Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar 'n aanvoerder sal aan sy gesmaad 'n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval.
DAN 11:19 Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.
DAN 11:20 En in sy plek sal iemand optree wat 'n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie.
DAN 11:21 Daarna sal 'n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig.
DAN 11:22 En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond.
DAN 11:23 Want sodra 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word.
DAN 11:24 Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir 'n tyd.
DAN 11:25 En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met 'n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met 'n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam.
DAN 11:26 En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê.
DAN 11:27 En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.
DAN 11:28 En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.
DAN 11:29 Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.
DAN 11:30 Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.
DAN 11:31 En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.
DAN 11:32 En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.
DAN 11:33 En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.
DAN 11:34 En terwyl hulle struikel, sal hulle met 'n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit.
DAN 11:35 En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde--want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd.
DAN 11:36 En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.
DAN 11:37 En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.
DAN 11:38 Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.
DAN 11:39 So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van 'n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel.
DAN 11:40 Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei.
DAN 11:41 Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.
DAN 11:42 En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie.
DAN 11:43 En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg.
DAN 11:44 Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.
DAN 11:45 En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com