Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Matthew 25

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

MT 25:1 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.
MT 25:2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
MT 25:3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
MT 25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
MT 25:5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
MT 25:6 En middernag was daar 'n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
MT 25:7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.
MT 25:8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
MT 25:9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
MT 25:10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
MT 25:11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
MT 25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
MT 25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.
MT 25:14 Want dit is soos 'n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.
MT 25:15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.
MT 25:16 En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin.
MT 25:17 Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.
MT 25:18 Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.
MT 25:19 En ná 'n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.
MT 25:20 En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien.
MT 25:21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
MT 25:22 En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien.
MT 25:23 Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
MT 25:24 En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u 'n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie;
MT 25:25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.
MT 25:26 Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie.
MT 25:27 Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.
MT 25:28 Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het;
MT 25:29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
MT 25:30 En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.
MT 25:31 En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;
MT 25:32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;
MT 25:33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit.
MT 25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
MT 25:35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;
MT 25:36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
MT 25:37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
MT 25:38 En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
MT 25:39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
MT 25:40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.
MT 25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
MT 25:42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie.
MT 25:43 Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.
MT 25:44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?
MT 25:45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.
MT 25:46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com