Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Revelation 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22]

REV 16:1 En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit.
REV 16:2 Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.
REV 16:3 En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van 'n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe.
REV 16:4 En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword.
REV 16:5 En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het;
REV 16:6 want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.
REV 16:7 En ek het 'n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.
REV 16:8 En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.
REV 16:9 En die mense is geskroei met 'n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie.
REV 16:10 En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn;
REV 16:11 en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie.
REV 16:12 En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word.
REV 16:13 En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.
REV 16:14 Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.
REV 16:15 Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.
REV 16:16 En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.
REV 16:17 En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!
REV 16:18 En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so 'n geweldige groot aardbewing.
REV 16:19 En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.
REV 16:20 En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie;
REV 16:21 en groot hael, omtrent 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com