Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

1 Samuel 18

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]

1SAM 18:1 En nadat hy sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jónatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgekry soos sy eie siel.
1SAM 18:2 En Saul het hom dié dag geneem en hom nie na sy familie laat teruggaan nie.
1SAM 18:3 Toe sluit Jónatan met Dawid 'n verbond, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel.
1SAM 18:4 Daarby trek Jónatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel.
1SAM 18:5 En Dawid het uitgetrek. Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het; en dit was goed in die oë van die hele volk en ook in die oë van die dienaars van Saul.
1SAM 18:6 En toe hulle tuis kom, en ook Dawid terug was nadat hy die Filistyn verslaan het, het die vroue uitgegaan uit al die stede van Israel met sang en koordanse, met tamboeryne, met vreugdegeroep en met triangels koning Saul tegemoet.
1SAM 18:7 En die vroue wat vrolik was, het gesing en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende!
1SAM 18:8 En Saul het baie kwaad geword, want hierdie woord was verkeerd in sy oë. En hy sê: Hulle het Dawid die tien duisende gegee, maar my die duisende gegee; hy moet nou nog net die koningskap kry!
1SAM 18:9 En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad.
1SAM 18:10 Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul 'n spies in sy hand hou.
1SAM 18:11 Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee.
1SAM 18:12 En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het.
1SAM 18:13 Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit-- en ingegaan het.
1SAM 18:14 En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom.
1SAM 18:15 Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword.
1SAM 18:16 Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit-- en ingegaan.
1SAM 18:17 Verder het Saul vir Dawid gesê: Hier is my oudste dogter Merab, haar sal ek aan jou as vrou gee; wees net vir my 'n dapper man en voer die oorloë van die HERE. Want Saul het gedink: Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees.
1SAM 18:18 Maar Dawid het vir Saul gesê: Wie is ek, en wat is my familie, die geslag van my vader in Israel, dat ek 'n skoonseun van die koning sou word?
1SAM 18:19 Maar teen die tyd dat Merab, die dogter van Saul, aan Dawid moes gegee word, is sy aan Adriël, die Meholatiet, as vrou gegee.
1SAM 18:20 Maar Migal, die dogter van Saul, het Dawid liefgekry; en toe hulle dit aan Saul meedeel, was die saak in sy oë reg.
1SAM 18:21 Want Saul het gedink: Ek sal haar aan hom gee, dat sy vir hom'n strik kan wees en dat die hand van die Filistyne teen hom kan wees. Daarom het Saul vir Dawid gesê: Vir die tweede keer kan jy vandag my skoonseun word!
1SAM 18:22 En Saul het sy dienaars bevel gegee: Spreek met Dawid in die geheim en sê: Kyk, die koning hou van jou, en al sy dienaars het jou lief: word nou maar die koning se skoonseun.
1SAM 18:23 Die dienaars van Saul het toe hierdie woorde voor die ore van Dawid gespreek; maar Dawid het gevra: Is dit 'n kleinigheid in julle oë om die skoonseun van die koning te word, terwyl ek 'n arm en geringe man is?
1SAM 18:24 En die dienaars van Saul het hom dit meegedeel: Sulke woorde het Dawid gespreek.
1SAM 18:25 Toe sê Saul: So moet julle aan Dawid sê: Die koning het behae in geen ander bruidsprys as honderd voorhuide van Filistyne nie, as wraakneming op die vyande van die koning. Saul het naamlik daarop gereken om Dawid te laat val deur die hand van die Filistyne.
1SAM 18:26 Toe sy dienaars hierdie woorde aan Dawid meedeel, was die saak reg in die oë van Dawid om skoonseun van die koning te word. En voordat die dae verstreke was,
1SAM 18:27 het Dawid hom klaargemaak en met sy manne uitgetrek, en hulle het twee honderd man onder die Filistyne doodgeslaan; en Dawid het hulle voorhuide gebring en dit is voltallig aan die koning afgegee, sodat hy die koning se skoonseun kon word. Daarop het Saul aan hom sy dogter Migal as vrou gegee.
1SAM 18:28 Toe Saul sien en merk dat die HERE met Dawid was, en dat Migal, die dogter van Saul, hom liefhet,
1SAM 18:29 het Saul nog meer bevrees geword vir Dawid, en Saul het Dawid se vyand geword al die dae.
1SAM 18:30 En die vorste van die Filistyne het uitgetrek; en so dikwels as hulle uittrek, het Dawid meer voorspoed gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeëerd was.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com