Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

2 Kings 15

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25]

2KINGS 15:1 In die sewe en twintigste jaar van Jeróbeam, die koning van Israel, het Asárja, die seun van Amásia, die koning van Juda, koning geword.
2KINGS 15:2 Hy was sestien jaar oud toe hy koning geword het, en twee en vyftig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jególja, van Jerusalem.
2KINGS 15:3 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Amásia gedoen het.
2KINGS 15:4 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan.
2KINGS 15:5 En die HERE het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe; en hy het in 'n afgesonderde huis gewoon, terwyl Jotam, die seun van die koning, oor die paleis was en reg gespreek het oor die volk van die land.
2KINGS 15:6 En die verdere geskiedenis van Asárja en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
2KINGS 15:7 En Asárja het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en sy seun Jotam het in sy plek koning geword.
2KINGS 15:8 In die agt en dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Sagaría, die seun van Jeróbeam, oor Israel koning geword in Samaría--ses maande lank.
2KINGS 15:9 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE soos sy vaders gedoen het; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
2KINGS 15:10 En Sallum, die seun van Jabes, het 'n sameswering teen hom gesmee en hom voor die oë van die volk verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.
2KINGS 15:11 En die verdere geskiedenis van Sagaría, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
2KINGS 15:12 Dit was die woord van die HERE wat Hy tot Jehu gespreek het, naamlik: Seuns van die vierde geslag sal vir jou op die troon van Israel sit. En dit was so.
2KINGS 15:13 Sallum, die seun van Jabes, het in die nege en dertigste jaar van Ussía, die koning van Juda, koning geword en 'n maand lank in Samaría geregeer.
2KINGS 15:14 Daarna het Menáhem, die seun van Gadi, van Tirsa opgetrek en in Samaría gekom en Sallum, die seun van Jabes, in Samaría verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.
2KINGS 15:15 En die verdere geskiedenis van Sallum en sy sameswering wat hy gesmee het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
2KINGS 15:16 Toe het Menáhem Tifsag verslaan met almal wat daarin was, en die grondgebied daarvan, van Tirsa af; omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie; hy het dit verslaan en al die swanger vroue daarvan laat oopsny.
2KINGS 15:17 In die nege en dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Menáhem, die seun van Gadi, koning oor Israel geword in Samaría--tien jaar lank.
2KINGS 15:18 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het al sy dae nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
2KINGS 15:19 Pul, die koning van Assirië, het die land oorval, en Menáhem het aan Pul duisend talente silwer gegee, dat sy hande met hom sou wees om die koningskap in sy hand te versterk.
2KINGS 15:20 En Menáhem het oor Israel, al die persone van vermoë, die geld verdeel om dit aan die koning van Assirië te gee: vyftig sikkels silwer vir elke man; toe het die koning van Assirië omgedraai en nie daar in die land gebly nie.
2KINGS 15:21 En die verdere geskiedenis van Menáhem en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
2KINGS 15:22 En Menáhem het ontslaap met sy vaders, en sy seun Pekáhia het in sy plek koning geword.
2KINGS 15:23 In die vyftigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Pekáhia, die seun van Menáhem, koning oor Israel geword in Samaría--twee jaar lank.
2KINGS 15:24 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
2KINGS 15:25 En Peka, die seun van Remália, sy adjudant, het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in Samaría in die vesting van die koning se huis verslaan saam met Argob en met Arje; en vyftig man uit die kinders van die Gileadiete was saam met hom; en hy het hom gedood en in sy plek koning geword.
2KINGS 15:26 En die verdere geskiedenis van Pekáhia en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
2KINGS 15:27 In die twee en vyftigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Peka, die seun van Remália, koning geword oor Israel in Samaría--twintig jaar lank.
2KINGS 15:28 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
2KINGS 15:29 In die dae van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom en Ijon ingeneem en Abel-Bet-Máäga en Janóag en Kedes en Hasor en Gílead en Galiléa, die hele land Náftali; en hy het hulle in ballingskap weggevoer na Assirië toe.
2KINGS 15:30 En Hoséa, die seun van Ela, het 'n sameswering gesmee teen Peka, die seun van Remália, en hom verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword, in die twintigste jaar van Jótam, die seun van Ussía.
2KINGS 15:31 En die verdere geskiedenis van Peka en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
2KINGS 15:32 In die tweede jaar van Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, het Jotam, die seun van Ussía, die koning van Juda, koning geword.
2KINGS 15:33 Vyf en twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jerúsa, die dogter van Sadok.
2KINGS 15:34 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE; net soos sy vader Ussía gedoen het, het hy gedoen.
2KINGS 15:35 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan; dit is hy wat die Boonste Poort van die huis van die HERE gebou het.
2KINGS 15:36 En die verdere geskiedenis van Jotam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
2KINGS 15:37 In dié dae het die HERE Resin, die koning van Aram, en Peka, die seun van Remália, teen Juda begin stuur.
2KINGS 15:38 En Jotam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Agas het in sy plek koning geword.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com