Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Hosea 10

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14]

HOS 10:1 Israel was 'n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.
HOS 10:2 Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes.
HOS 10:3 Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die HERE nie gevrees nie; en die koning--wat sou hy vir ons kan doen?
HOS 10:4 Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit--en soos 'n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye.
HOS 10:5 Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is.
HOS 10:6 Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.
HOS 10:7 Samaría word vernietig, sy koning is soos 'n spaander op die water.
HOS 10:8 En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!
HOS 10:9 Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle--moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie?
HOS 10:10 Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede.
HOS 10:11 Maar Efraim is 'n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep.
HOS 10:12 Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.
HOS 10:13 Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.
HOS 10:14 Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word net soos Salman Bet-Arbel verwoes het in die dag van oorlog: moeders is met kinders en al verpletter.
HOS 10:15 Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com