Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Judges 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21]

JUDG 11:1 En Jefta, die Gileadiet, was 'n dapper held, maar hy was die seun van 'n hoer; en Gílead was die vader van Jefta.
JUDG 11:2 En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe nie, want jy is die seun van 'n ander vrou.
JUDG 11:3 Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek.
JUDG 11:4 En 'n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel.
JUDG 11:5 Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob;
JUDG 11:6 en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen die kinders van Ammon.
JUDG 11:7 Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in die benoudheid sit?
JUDG 11:8 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof kan wees oor al die inwoners van Gílead.
JUDG 11:9 Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om teen die kinders van Ammon te veg en die HERE hulle aan my oorgee, dan moet ek julle hoof word.
JUDG 11:10 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die HERE sal hoorder wees tussen ons. Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen.
JUDG 11:11 So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die HERE in Mispa gespreek.
JUDG 11:12 Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg?
JUDG 11:13 En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta: Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug.
JUDG 11:14 En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van Ammon
JUDG 11:15 en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie geneem nie.
JUDG 11:16 Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom.
JUDG 11:17 En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly.
JUDG 11:18 Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon is die grens van Moab.
JUDG 11:19 Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek na my plek toe.
JUDG 11:20 Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg.
JUDG 11:21 Maar die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het.
JUDG 11:22 En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem.
JUDG 11:23 So het die HERE, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit verdrywe, en wil u dit in besit neem?
JUDG 11:24 Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as 'n besitting gee, en óns alles wat die HERE onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie?
JUDG 11:25 En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg?
JUDG 11:26 Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Aroër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, drie honderd jaar lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie?
JUDG 11:27 So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen my oorlog te voer. Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon!
JUDG 11:28 Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom laat weet het nie.
JUDG 11:29 Toe het die Gees van die HERE op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead en Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy deurgetrek na die kinders van Ammon.
JUDG 11:30 En Jefta het aan die HERE 'n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee,
JUDG 11:31 dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit as 'n brandoffer bring.
JUDG 11:32 Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die HERE het hulle in sy hand gegee.
JUDG 11:33 En hy het hulle verslaan van Aroër af in die rigting na Minnit, twintig stede, en tot by Abel-Kerámim--'n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel.
JUDG 11:34 En toe Jefta in Mispa by sy huis kom, gaan sy dogter juis uit hom tegemoet met tamboeryne en koordanse; en sy was die enigste kind: hy het geen seun of dogter buiten haar gehad nie.
JUDG 11:35 En net toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter, jy druk my heeltemal neer, en jy stort my in die ongeluk! Want ek het my mond geopen teenoor die HERE, en ek kan nie terugtrek nie.
JUDG 11:36 En sy antwoord hom: My vader, as u u mond geopen het teenoor die HERE, maak met my soos uit u mond uitgegaan het nadat die HERE u volkome wraak verskaf het op u vyande, op die kinders van Ammon.
JUDG 11:37 Verder het sy vir haar vader gesê: Laat dít my toegestaan word: laat my twee maande vry, dat ek kan weggaan en afdaal na die berge en my maagdelike staat beween, ek en my vriendinne.
JUDG 11:38 En hy sê: Gaan! En hy het haar vir twee maande laat gaan. Sy het toe weggegaan met haar vriendinne en haar maagdelike staat op die berge beween.
JUDG 11:39 En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy het die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het geen man beken nie. En dit het 'n gewoonte geword in Israel
JUDG 11:40 dat die dogters van Israel jaar vir jaar heengaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com