Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Judges 20

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21]

JUDG 20:1 Toe het al die kinders van Israel uitgetrek, en die vergadering het soos een man, van Dan tot Berséba, saam met die land Gílead, byeengekom by die HERE in Mispa;
JUDG 20:2 en die hoofde van die hele volk, van al die stamme van Israel, het in die vergadering van die volk van God gaan staan--vier honderd duisend man te voet wat die swaard uittrek.
JUDG 20:3 En die kinders van Benjamin het gehoor dat die kinders van Israel opgetrek het na Mispa. Toe sê die kinders van Israel: Vertel julle hoe hierdie misdaad gepleeg is.
JUDG 20:4 Daarop antwoord die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, en sê: Ek het in Gíbea wat aan Benjamin behoort, gekom, ek en my byvrou, om te vernag.
JUDG 20:5 En die burgers van Gíbea het teen my opgestaan en in vyandskap teen my die huis omsingel in die nag; hulle het gemeen om my dood te maak, en my byvrou het hulle onteer, sodat sy gesterf het.
JUDG 20:6 Toe het ek my byvrou gegryp en haar in stukke verdeel en haar rondgestuur in die hele gebied van die erfdeel van Israel, omdat hulle 'n gruwel en 'n skanddaad in Israel begaan het.
JUDG 20:7 Hier is julle, kinders van Israel, nou almal: gee julle hier woord en raad!
JUDG 20:8 Toe staan die hele volk op soos een man en sê: Geeneen van ons sal na sy tent toe gaan en geeneen van ons wegdraai na sy huis toe nie;
JUDG 20:9 maar dit is nou die ding wat ons Gíbea sal aandoen: Op teen hom volgens die lot!
JUDG 20:10 Ons sal naamlik tien man neem uit elke honderd van al die stamme van Israel, en honderd uit duisend, en duisend uit tien duisend, om padkos vir die manskappe te gaan haal, om as hulle gekom het, met Gíbea-Benjamin te handel volgens die skanddaad wat hy in Israel begaan het.
JUDG 20:11 Toe versamel al die manne van Israel by die stad, soos een man saamverbonde.
JUDG 20:12 En die stamme van Israel stuur manne deur die hele stam van Benjamin om te sê: Wat vir 'n misdaad is dit wat onder julle gepleeg is?
JUDG 20:13 Lewer dan nou die slegte manne uit wat in Gíbea is, dat ons hulle om die lewe kan bring en die kwaad uit Israel kan uitroei. Die Benjaminiete wou egter nie na hulle broers, die kinders van Israel, luister nie;
JUDG 20:14 maar die kinders van Benjamin het bymekaargekom uit die stede na Gíbea toe, om na die oorlog uit te trek teen die kinders van Israel.
JUDG 20:15 En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses en twintig duisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is: sewe honderd uitgesoekte manne.
JUDG 20:16 Uit al hierdie manskappe was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met 'n klip op 'n haar geslinger sonder om te mis.
JUDG 20:17 En die manne van Israel, behalwe Benjamin, is getel: vier honderd duisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was krygsmanne.
JUDG 20:18 En hulle het klaargemaak en opgetrek na Bet-el en God geraadpleeg; en die kinders van Israel het gesê: Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die kinders van Benjamin? Toe sê die HERE: Juda eerste.
JUDG 20:19 Daarop het die kinders van Israel die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen Gíbea.
JUDG 20:20 En die manne van Israel het uitgetrek om te veg teen Benjamin, en die manne van Israel het hulleself in slagorde teen hulle opgestel, na Gíbea toe.
JUDG 20:21 Toe trek die kinders van Benjamin uit Gíbea uit, en hulle het op dié dag in Israel twee en twintig duisend man teen die grond vernietig.
JUDG 20:22 Maar die manskappe, die manne van Israel, het hulle sterk gehou en hulle weer in slagorde opgestel op die plek waar hulle hul die vorige dag opgestel het.
JUDG 20:23 En die kinders van Israel het opgetrek en geween voor die aangesig van die HERE tot die aand toe en die HERE geraadpleeg en gesê: Moet ek weer nader trek om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer? En die HERE sê: Trek teen hom op!
JUDG 20:24 En toe die kinders van Israel die tweede dag nader kom na die kinders van Benjamin,
JUDG 20:25 het Benjamin uit Gíbea op die tweede dag uitgetrek om hulle te ontmoet en van die kinders van Israel nog agttien duisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond vernietig.
JUDG 20:26 Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die HERE en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die HERE gebring.
JUDG 20:27 En die kinders van Israel het die HERE geraadpleeg--want die verbondsark van God was in dié dae daar,
JUDG 20:28 en Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, het in dié dae voor Hom gedien--en gesê: Moet ek nog weer uittrek om teen die kinders van Benjamin, my broer, te veg, of moet ek ophou? Toe sê die HERE: Trek op, want môre sal Ek hom in jou hand gee.
JUDG 20:29 En Israel het rondom teen Gíbea hinderlae opgestel.
JUDG 20:30 En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin opgetrek en hulle teen Gíbea opgestel soos die vorige kere.
JUDG 20:31 En die kinders van Benjamin het uitgetrek, die manskappe tegemoet--hulle is van die stad afgesny--en, soos die vorige kere, het hulle begin om sommige van die manskappe op die grootpaaie te verslaan, waarvan die een opgaan na Bet-el, en die ander deur die veld na Gíbea--omtrent dertig man in Israel.
JUDG 20:32 Toe dink die kinders van Benjamin: Hulle is voor ons verslaan soos die eerste keer! Maar die kinders van Israel het gesê: Laat ons vlug en hom van die stad afsny na die grootpaaie toe.
JUDG 20:33 En al die manne van Israel het hulle stelling verlaat en hulle by Baäl-Tamar opgestel, terwyl die hinderlaag van Israel aanruk uit sy stelling, uit die oop plek by Geba.
JUDG 20:34 En tien duisend uitgesoekte manne uit die hele Israel het teenoor Gíbea vandaan gekom, en die geveg was hewig; maar Benjamin het nie gemerk dat die onheil hulle sou tref nie.
JUDG 20:35 Toe het die HERE Benjamin voor Israel verslaan, en die kinders van Israel het op dié dag in Benjamin vyf en twintig duisend een honderd man wat almal die swaard uittrek, vernietig.
JUDG 20:36 So het dan die kinders van Benjamin gesien dat hulle verslaan is. En die manne van Israel het aan Benjamin terrein gegee, omdat hulle vertrou het op die hinderlaag wat hulle teen Gíbea opgestel het.
JUDG 20:37 Toe het die hinderlaag vinnig na Gíbea gestorm--en die hinderlaag het getrek en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan.
JUDG 20:38 En die manne van Israel het 'n afspraak met die hinderlaag gehad dat hulle 'n groot rookwolk uit die stad moet laat optrek.
JUDG 20:39 Daarom het die manne van Israel omgedraai in die geveg; en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel sommige neer te slaan, omtrent dertig man, want hulle het gedink: Hy is regtig heeltemal voor ons verslaan soos in die vorige geveg.
JUDG 20:40 Intussen het die wolk begin optrek uit die stad, 'n rookpilaar; en toe Benjamin agter hom omkyk, trek die hele stad al in rook na die hemel op!
JUDG 20:41 Toe die manne van Israel dan nou omdraai, het die manne van Benjamin geskrik, want hulle het gesien dat die onheil hulle gaan tref;
JUDG 20:42 en hulle het voor die manne van Israel omgedraai op pad na die woestyn; maar die geveg het hulle ingehaal, terwyl die wat uit die stede kom, hulle daar tussenin vernietig:
JUDG 20:43 hulle het Benjamin omsingel, hom agtervolg, hom op die rusplek vertrap tot teenoor Gíbea, aan die oostekant.
JUDG 20:44 En daar het van Benjamin agttien duisend man geval, en dit almal dapper manne.
JUDG 20:45 Toe spring hulle om en vlug na die woestyn, na die rots Rimmon; maar hulle het in die nageveg op die grootpaaie vyf duisend man van hulle gedood en hulle agternagesit tot by Gídeom en twee duisend man van hulle verslaan.
JUDG 20:46 En al die gesneuweldes van Benjamin op dié dag was vyf en twintig duisend man wat die swaard uittrek, en dit almal dapper manne.
JUDG 20:47 Maar ses honderd man het omgedraai en gevlug na die woestyn, na die rots Rimmon en vier maande by die rots Rimmon gebly.
JUDG 20:48 Toe gaan die manne van Israel terug na die kinders van Benjamin en verslaan hulle met die skerpte van die swaard, sowel mense as diere en alles wat voorgekom het; ook al die stede wat hulle aangetref het, het hulle aan die brand gesteek.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com