Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Romans 10

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]

ROM 10:1 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.
ROM 10:2 Want ek getuig van hulle dat hulle 'n ywer vir God het, maar sonder kennis.
ROM 10:3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.
ROM 10:4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
ROM 10:5 Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.
ROM 10:6 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring;
ROM 10:7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?
ROM 10:8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:
ROM 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
ROM 10:10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
ROM 10:11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
ROM 10:12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
ROM 10:13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
ROM 10:14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?
ROM 10:15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!
ROM 10:16 Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo?
ROM 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
ROM 10:18 Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.
ROM 10:19 Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen 'n onverstandige volk.
ROM 10:20 En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.
ROM 10:21 Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na 'n ongehoorsame en teësprekende volk.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com