Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Romans 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16]

ROM 11:1 Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
ROM 11:2 God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? hoe hy by God optree teen Israel en sê:
ROM 11:3 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe!
ROM 11:4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.
ROM 11:5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.
ROM 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
ROM 11:7 Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard.
ROM 11:8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
ROM 11:9 En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees 'n vangnet en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding.
ROM 11:10 Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom.
ROM 11:11 Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.
ROM 11:12 En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!
ROM 11:13 Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek 'n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening
ROM 11:14 as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!
ROM 11:15 Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?
ROM 11:16 En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook.
ROM 11:17 En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat 'n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom,
ROM 11:18 moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou.
ROM 11:19 Jy sal dan sê: Die takke is afgebreek, sodat ek ingeënt kon word.
ROM 11:20 Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.
ROM 11:21 Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.
ROM 11:22 Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.
ROM 11:23 Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want God is magtig om hulle weer in te ent.
ROM 11:24 Want as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?
ROM 11:25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
ROM 11:26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;
ROM 11:27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.
ROM 11:28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders.
ROM 11:29 Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.
ROM 11:30 Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid,
ROM 11:31 so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang.
ROM 11:32 Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.
ROM 11:33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
ROM 11:34 Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
ROM 11:35 Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
ROM 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com