Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

1 Chronicles 22

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29]

1CHRON 22:1 En Dawid het gesê: Dit is die huis van die HERE God, en dit is die brandofferaltaar vir Israel.
1CHRON 22:2 En Dawid het bevel gegee om die vreemdelinge wat in die land van Israel was, te versamel, en hy het klipkappers aangestel om gekapte klippe reg te slaan om die huis van God te bou.
1CHRON 22:3 En Dawid het yster in groot hoeveelheid byeengebring as spykers vir die poortdeure en as kramme, en koper in menigte, onweegbaar;
1CHRON 22:4 verder sederblokke, ontelbaar; want die Sidoniërs en die Tiriërs het vir Dawid sederblokke in menigte gebring.
1CHRON 22:5 Want Dawid het gesê: My seun Salomo is jonk en teer, en die huis wat vir die HERE gebou moet word, moet buitengewoon groot wees, tot 'n roem en 'n sieraad van al die lande; laat my dan vir hom die bou voorberei. Daarom het Dawid voor sy dood groot toebereidsels gemaak.
1CHRON 22:6 Daarop het hy sy seun Salomo geroep en hom bevel gegee om 'n huis vir die HERE, die God van Israel, te bou.
1CHRON 22:7 En Dawid het aan Salomo gesê: My seun, ek self het my voorgeneem om 'n huis te bou vir die Naam van die HERE my God.
1CHRON 22:8 Maar die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Jy het bloed in menigte vergiet en groot oorloë gevoer: jy mag nie vir my Naam 'n huis bou nie, omdat jy baie bloed op die aarde voor my aangesig vergiet het.
1CHRON 22:9 Kyk, 'n seun sal vir jou gebore word; hy sal 'n man van rus wees, en Ek sal hom rus verskaf van al sy vyande rondom; want Salomo sal sy naam wees, en vrede en rus sal Ek oor Israel in sy dae gee.
1CHRON 22:10 Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en hy sal vir My 'n seun wees, en Ek vir hom 'n Vader; en Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel bevestig tot in ewigheid.
1CHRON 22:11 Nou, my seun, mag die HERE met jou wees, dat jy voorspoedig kan wees om die huis van die HERE jou God te bou soos Hy oor jou gespreek het.
1CHRON 22:12 Mag die HERE jou net insig en verstand gee en jou aanstel oor Israel; en dit om die wet van die HERE jou God te onderhou.
1CHRON 22:13 Dan sal jy voorspoedig wees as jy sorgvuldig die insettinge en verordeninge onderhou wat die HERE aan Moses oor Israel beveel het; wees sterk en vol moed, wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.
1CHRON 22:14 En kyk, deur my moeitevolle arbeid het ek vir die huis van die HERE honderd duisend talente goud en 'n miljoen talente silwer gereed gelê, en die koper en die yster is onweegbaar; want dit is daar in groot hoeveelheid; en hout en klippe het ek in gereedheid gebring; en jy kan daar nog meer byvoeg.
1CHRON 22:15 Verder is daar by jou werksmense in menigte: klipkappers en ambagsmanne in klip en hout, en allerhande kunstenaars in allerhande werk.
1CHRON 22:16 Wat die goud, die silwer en die koper en die yster betref, dit is ontelbaar. Maak jou klaar en gaan aan die werk, en mag die HERE met jou wees!
1CHRON 22:17 En Dawid het al die vorste van Israel bevel gegee om sy seun Salomo te help, en gesê:
1CHRON 22:18 Was die HERE julle God nie met julle en het Hy julle nie rondom rus gegee nie? Ja, Hy het die inwoners van die land in my hand gegee, en die land is voor die aangesig van die HERE en voor sy volk onderwerp.
1CHRON 22:19 Rig nou julle hart en julle siel daarop om die HERE julle God te soek, en maak julle gereed en bou die heiligdom van die HERE God, dat julle die verbondsark van die HERE en die heilige voorwerpe van God kan bring in die huis wat vir die Naam van die HERE gebou sal word.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com