Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

2 Chronicles 33

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36]

2CHRON 33:1 Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer.
2CHRON 33:2 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het.
2CHRON 33:3 En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader Jehiskía afgebreek het, en altare opgerig vir die Baäls en heilige boomstamme gemaak en hom neergebuig voor die hele leër van die hemel en hulle gedien;
2CHRON 33:4 ook altare gebou in die huis van die HERE waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal my Naam vir ewig wees.
2CHRON 33:5 En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE.
2CHRON 33:6 Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg.
2CHRON 33:7 Hy het ook 'n gesnede afgodsbeeld wat hy gemaak het, in die huis van God opgestel waarvan God aan Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel verkies het, sal Ek vir ewig my Naam vestig.
2CHRON 33:8 En Ek sal die voet van Israel nie meer laat wyk van die grond wat Ek vir julle vaders bestem het nie, as hulle net sorgvuldig doen alles wat Ek hulle beveel het volgens die hele wet en die insettinge en verordeninge deur die diens van Moses.
2CHRON 33:9 Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het.
2CHRON 33:10 En die HERE het met Manasse en met sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie.
2CHRON 33:11 Daarom het die HERE die leërowerstes van die koning van Assirië oor hulle gebring, en dié het Manasse met hake gevang en hom met koperkettings geboei en hom na Babel vervoer.
2CHRON 33:12 Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders
2CHRON 33:13 en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is.
2CHRON 33:14 En daarna het hy 'n buitemuur vir die stad van Dawid gebou, westelik van die Gihon in die dal tot by die ingang na die Vispoort en dit om die Heuwel getrek en baie hoog gemaak, en leërowerstes in al die versterkte stede in Juda aangestel.
2CHRON 33:15 En hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die HERE verwyder, ook al die altare wat hy op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem gebou het, en dit buitekant die stad gegooi.
2CHRON 33:16 En hy het die altaar van die HERE weer opgerig en daar dankoffers en lofoffers op gebring en aan Juda bevel gegee om die HERE, die God van Israel, te dien.
2CHRON 33:17 Tog het die volk nog op die hoogtes geoffer, maar net aan die HERE hulle God.
2CHRON 33:18 En die verdere geskiedenis van Manasse en sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat tot hom gespreek het in die Naam van die HERE, die God van Israel, kyk, dit is in die Geskiedenis van die konings van Israel.
2CHRON 33:19 En sy gebed en hoe hy verhoor is en al sy sonde en sy ontrou en die plekke waar hy hoogtes gebou en die heilige boomstamme en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Hósai.
2CHRON 33:20 En Manasse het ontslaap met sy vaders, en hy is in sy huis begrawe; en sy seun Amon het in sy plek koning geword.
2CHRON 33:21 Amon was twee en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en twee jaar het hy in Jerusalem geregeer.
2CHRON 33:22 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, soos sy vader Manasse gedoen het; en aan al die gesnede beelde wat sy vader Manasse gemaak het, het Amon ywerig geoffer en hulle gedien.
2CHRON 33:23 Maar hy het hom nie verootmoedig voor die aangesig van die HERE soos sy vader Manasse hom verootmoedig het nie; maar hy, Amon, het die skuld vermeerder.
2CHRON 33:24 En sy dienaars het teen hom saamgesweer en hom in sy huis gedood.
2CHRON 33:25 Maar die volk van die land het almal doodgeslaan wat teen koning Amon saamgesweer het, en die volk van die land het sy seun Josía in sy plek koning gemaak.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com