Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Acts 25

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28]

ACTS 25:1 Festus het dan in die provinsie gekom en ná drie dae van Cesaréa opgegaan na Jerusalem.
ACTS 25:2 En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag
ACTS 25:3 en by hom aangedring en gevra, as 'n guns teen Paulus, dat hy hom na Jerusalem moes laat haal; terwyl hulle intussen 'n hinderlaag voorberei het om hom op die weg om te bring.
ACTS 25:4 Maar Festus het geantwoord dat Paulus in Cesaréa bewaak word en dat hy self spoedig daarheen sou reis.
ACTS 25:5 Laat dan dié onder julle, sê hy, wat bevoeg is, saamgaan, en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig.
ACTS 25:6 En nadat hy nie meer as tien dae onder hulle deurgebring het nie, het hy na Cesaréa afgegaan en die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Paulus voorgebring moes word.
ACTS 25:7 En toe hy verskyn, het die Jode wat van Jerusalem afgekom het, rondom hom gestaan en baie en swaar beskuldiginge teen Paulus ingebring wat hulle nie kon bewys nie,
ACTS 25:8 terwyl hy tot sy verdediging gesê het: Ek het niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.
ACTS 25:9 Maar omdat Festus aan die Jode 'n guns wou bewys, het hy geantwoord en vir Paulus gesê: Wil jy na Jerusalem opgaan en daar voor my oor hierdie dinge teregstaan?
ACTS 25:10 Toe sê Paulus: Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Aan die Jode het ek geen onreg gedoen nie, soos u ook baie goed weet.
ACTS 25:11 Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser!
ACTS 25:12 Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep--na die keiser sal jy gaan!
ACTS 25:13 En ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet.
ACTS 25:14 En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is 'n man deur Felix as gevangene agtergelaat,
ACTS 25:15 teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, 'n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.
ACTS 25:16 En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.
ACTS 25:17 Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring.
ACTS 25:18 Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie,
ACTS 25:19 maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor 'n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.
ACTS 25:20 En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan;
ACTS 25:21 maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.
ACTS 25:22 En Agríppa sê vir Festus: Ek sou self ook graag die man wil hoor. Toe antwoord hy: Môre sal u hom hoor.
ACTS 25:23 Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.
ACTS 25:24 Toe sê Festus: Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie.
ACTS 25:25 Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.
ACTS 25:26 Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agríppa, sodat ek ná die ondersoek iets kan skrywe.
ACTS 25:27 Want dit lyk vir my onredelik om 'n gevangene te stuur en nie die beskuldiginge teen hom aan te dui nie.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com