Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Deuteronomy 13

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34]

DEUT 13:1 As 'n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou 'n teken of wonder aankondig,
DEUT 13:2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop--wat jy nie geken het nie--en hulle dien,
DEUT 13:3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.
DEUT 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.
DEUT 13:5 Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat die HERE jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
DEUT 13:6 As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien--wat jy en jou vaders nie geken het nie,
DEUT 13:7 uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde--
DEUT 13:8 dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie,
DEUT 13:9 maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk.
DEUT 13:10 En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
DEUT 13:11 En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so 'n verkeerde ding by jou doen nie.
DEUT 13:12 As jy in een van jou stede wat die HERE jou God jou gee om daar te woon, hoor sê:
DEUT 13:13 Deugniete het by jou opgetree en die inwoners van hulle stad verlei deur te sê: Laat ons gaan en ander gode dien--wat julle nie geken het nie--
DEUT 13:14 dan moet jy terdeë ondersoek en naspeur en uitvra, en as dit waarheid is, staan die saak vas, is hierdie gruwel by jou gedoen,
DEUT 13:15 dan moet jy die inwoners van dié stad sekerlik verslaan met die skerpte van die swaard deur dit met die banvloek te tref en alles wat daarin is, ook die vee, met die skerpte van die swaard.
DEUT 13:16 En al die buit daarvan moet jy op die stadsplein bymekaarbring en die stad en al die buit as voloffer met vuur verbrand aan die HERE jou God; en dit moet vir ewig 'n puinhoop wees, dit mag nie weer opgebou word nie.
DEUT 13:17 Ook mag daar niks van wat bangoed is, aan jou hand bly kleef nie, sodat die HERE Hom van die gloed van sy toorn kan afwend en aan jou barmhartigheid kan bewys en Hom oor jou ontferm en jou vermenigvuldig, soos Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het--
DEUT 13:18 as jy luister na die stem van die HERE jou God om al sy gebooie te hou wat ek jou vandag beveel, deur te doen wat reg is in die oë van die HERE jou God.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com