Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Deuteronomy 17

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34]

DEUT 17:1 Jy mag aan die HERE jou God geen bees of stuk kleinvee waaraan 'n liggaamsgebrek, iets slegs, is, offer nie; want dit is vir die HERE jou God 'n gruwel.
DEUT 17:2 As by jou, in een van jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee, 'n man of 'n vrou gevind word wat doen wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God deur sy verbond te oortree,
DEUT 17:3 en ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, en voor die son of die maan of die hele leër van die hemel--wat Ek nie beveel het nie--
DEUT 17:4 en dit aan jou vertel word, en jy dit hoor, dan moet jy terdeë ondersoek instel, en as dit waarheid is, staan die saak vas, is hierdie gruwel in Israel gedoen,
DEUT 17:5 dan moet jy dié man of dié vrou wat hierdie verkeerde ding gedoen het, na jou poorte uitbring--die man of die vrou--en jy moet hulle stenig, dat hulle sterwe.
DEUT 17:6 Op die verklaring van twee getuies of drie getuies moet die veroordeelde gedood word; hy mag nie gedood word op die verklaring van een getuie nie.
DEUT 17:7 Die hand van die getuies moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
DEUT 17:8 As 'n saak vir jou te swaar is om te beslis oor manslag, oor regsaansprake en oor verwonding--regsake in jou poorte--dan moet jy klaarmaak en opgaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies;
DEUT 17:9 en jy moet kom na die Levitiese priesters en na die regter wat daar in dié dae sal wees, en jy moet uitvra; dan sal hulle jou die geregtelike uitspraak te kenne gee.
DEUT 17:10 En jy moet handel ooreenkomstig die uitspraak wat hulle jou te kenne sal gee, uit dié plek wat die HERE sal uitkies; en jy moet sorgvuldig doen net soos hulle jou sal leer.
DEUT 17:11 Ooreenkomstig die wet wat hulle jou leer en volgens die regspraak wat hulle jou sê, moet jy handel; jy mag nie regs of links afwyk van die uitspraak wat hulle jou te kenne gee nie.
DEUT 17:12 En die man wat vermetel handel, dat hy nie luister na die priester wat staan om daar die HERE jou God te dien, of na die regter nie--dié man moet sterwe. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.
DEUT 17:13 En die hele volk sal dit hoor en vrees en nie meer vermetel handel nie.
DEUT 17:14 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil 'n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is,
DEUT 17:15 dan moet jy sekerlik 'n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy 'n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.
DEUT 17:16 Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie.
DEUT 17:17 Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.
DEUT 17:18 En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom 'n afskrif van hierdie wet in 'n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê;
DEUT 17:19 en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen;
DEUT 17:20 sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com