Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Deuteronomy 26

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34]

DEUT 26:1 En as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon,
DEUT 26:2 dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in 'n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon,
DEUT 26:3 en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee.
DEUT 26:4 En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit.
DEUT 26:5 Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was 'n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar 'n groot, magtige en talryke nasie geword.
DEUT 26:6 Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en 'n harde diens op ons gelê.
DEUT 26:7 Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;
DEUT 26:8 en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;
DEUT 26:9 en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
DEUT 26:10 Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God.
DEUT 26:11 En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.
DEUT 26:12 As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.
DEUT 26:13 En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.
DEUT 26:14 Ek het daarvan in my rou nie geëet en daarvan as 'n onreine niks weggebring en daarvan aan 'n dooie niks gegee nie; ek het na die stem van die HERE my God geluister; ek het gedoen net soos U my beveel het.
DEUT 26:15 Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel en die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met 'n eed beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
DEUT 26:16 Vandag beveel die HERE jou God jou om hierdie insettinge en verordeninge na te kom; onderhou dan en doen dit met jou hele hart en met jou hele siel.
DEUT 26:17 Vandag het jy die HERE laat verklaar dat Hy vir jou 'n God sal wees, en dat jy in sy weë moet wandel en sy insettinge en sy gebooie en sy verordeninge moet hou en na sy stem moet luister.
DEUT 26:18 En die HERE het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom 'n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal onderhou;
DEUT 26:19 en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot 'n lof en 'n roem en 'n sieraad, en dat jy 'n heilige volk aan die HERE jou God sal wees soos Hy beloof het.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com