Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Deuteronomy 32

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34]

DEUT 32:1 Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond.
DEUT 32:2 Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.
DEUT 32:3 Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God!
DEUT 32:4 Die Rots--volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.
DEUT 32:5 Hulle het verderflik teen Hom gehandel--die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek--'n verkeerde en verdraaide geslag.
DEUT 32:6 Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?
DEUT 32:7 Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.
DEUT 32:8 Toe die Allerhoogste aan die nasies 'n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.
DEUT 32:9 Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.
DEUT 32:10 Hy het hom gevind in 'n woestynland en in 'n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.
DEUT 32:11 Soos 'n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels--
DEUT 32:12 die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.
DEUT 32:13 Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;
DEUT 32:14 dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.
DEUT 32:15 Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop--jy het vet geword, dik geword, spekvet geword--en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.
DEUT 32:16 Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.
DEUT 32:17 Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.
DEUT 32:18 Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
DEUT 32:19 Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.
DEUT 32:20 En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want 'n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.
DEUT 32:21 Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat 'n nie-volk is, deur 'n dwase nasie sal Ek hulle terg.
DEUT 32:22 Want 'n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.
DEUT 32:23 Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
DEUT 32:24 As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.
DEUT 32:25 Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard.
DEUT 32:26 Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas, hulle gedagtenis onder die mense uitroei--
DEUT 32:27 as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die HERE het dit alles nie gedoen nie.
DEUT 32:28 Want 'n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie.
DEUT 32:29 Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.
DEUT 32:30 Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!
DEUT 32:31 Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie--ja, ons vyande self is skeidsregters!
DEUT 32:32 Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle.
DEUT 32:33 Hulle wyn is slanggif en wrede addergif.
DEUT 32:34 Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie?
DEUT 32:35 My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.
DEUT 32:36 Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.
DEUT 32:37 Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het,
DEUT 32:38 wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle 'n beskerming kan wees!
DEUT 32:39 Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.
DEUT 32:40 Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê: So waar as Ek ewig leef--
DEUT 32:41 as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.
DEUT 32:42 Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vlees eet: van die bloed van hom wat verslaan en gevang is, van die kop van die vyand se aanvoerders.
DEUT 32:43 Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.
DEUT 32:44 En Moses het gekom en al die woorde van hierdie lied voor die ore van die volk gespreek, hy en Hoséa, die seun van Nun.
DEUT 32:45 En toe Moses met al hierdie woorde die hele Israel klaar toegespreek het,
DEUT 32:46 sê hy vir hulle: Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou.
DEUT 32:47 Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe; en deur hierdie woord sal julle die dae verleng in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.
DEUT 32:48 Daarna het die HERE op daardie selfde dag met Moses gespreek en gesê:
DEUT 32:49 Klim op hierdie gebergte Abárim, die berg Nebo, wat in die land Moab is, wat teenoor Jérigo lê, en aanskou die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel as besitting sal gee;
DEUT 32:50 en sterwe op die berg waarheen jy opklim, en word versamel by jou volksgenote, soos jou broer Aäron gesterf het op die berg Hor en versamel is by sy volksgenote,
DEUT 32:51 omdat julle onder die kinders van Israel ontrou teen My gehandel het by die twiswater van Kades, in die woestyn Sin, omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie.
DEUT 32:52 Want reg voor sal jy die land sien, maar jy sal daar nie inkom, in die land wat Ek aan die kinders van Israel sal gee nie.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com