Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Hebrews 10

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13]

HEB 10:1 Want die wet, wat 'n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.
HEB 10:2 Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie.
HEB 10:3 Maar in dié offers is daar jaar na jaar 'n herinnering aan die sondes;
HEB 10:4 want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem.
HEB 10:5 Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei.
HEB 10:6 Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie.
HEB 10:7 Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom--in die boekrol is dit van My geskrywe--om u wil te doen, o God.
HEB 10:8 Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie--wat volgens die wet geoffer word--
HEB 10:9 het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel.
HEB 10:10 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.
HEB 10:11 En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie;
HEB 10:12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God
HEB 10:13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is 'n voetbank van sy voete.
HEB 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.
HEB 10:15 En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;
HEB 10:16 want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,
HEB 10:17 en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.
HEB 10:18 Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.
HEB 10:19 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus
HEB 10:20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,
HEB 10:21 en ons 'n groot Priester oor die huis van God het,
HEB 10:22 laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.
HEB 10:23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;
HEB 10:24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;
HEB 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.
HEB 10:26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,
HEB 10:27 maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.
HEB 10:28 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;
HEB 10:29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?
HEB 10:30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.
HEB 10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.
HEB 10:32 Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, 'n groot lydensworsteling deurstaan het,
HEB 10:33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge 'n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so 'n toestand verkeer het.
HEB 10:34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself 'n beter en blywende besitting in die hemele het.
HEB 10:35 Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie.
HEB 10:36 Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.
HEB 10:37 Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.
HEB 10:38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.
HEB 10:39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com