Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Hebrews 12

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13]

HEB 12:1 Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
HEB 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
HEB 12:3 Want julle moet ag gee op Hom wat so 'n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.
HEB 12:4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.
HEB 12:5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie;
HEB 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.
HEB 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?
HEB 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.
HEB 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
HEB 12:10 Want húlle het ons wel 'n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.
HEB 12:11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.
HEB 12:12 Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;
HEB 12:13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
HEB 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
HEB 12:15 en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.
HEB 12:16 Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.
HEB 12:17 Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.
HEB 12:18 Want julle het nie gekom by 'n tasbare berg nie en 'n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm
HEB 12:19 en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie--
HEB 12:20 want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as 'n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met 'n pyl neergeskiet word.
HEB 12:21 En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder.
HEB 12:22 Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele,
HEB 12:23 by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges,
HEB 12:24 en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.
HEB 12:25 Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde 'n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.
HEB 12:26 Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.
HEB 12:27 En hierdie woord: nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.
HEB 12:28 Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.
HEB 12:29 Want onse God is 'n verterende vuur.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com