Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

1 Kings 13

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22]

1KINGS 13:1 Toe kom daar 'n man van God uit Juda deur die woord van die HERE in Bet-el aan, terwyl Jeróbeam op die altaar staan om offerrook te laat opgaan;
1KINGS 13:2 en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die HERE en gesê: Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, 'n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word.
1KINGS 13:3 En hy het dieselfde dag 'n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die wonderteken dát die HERE gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word.
1KINGS 13:4 En net toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy teen die altaar in Bet-el uitgeroep het, steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af en sê: Gryp hom! Maar sy hand wat hy teen hom uitgesteek het, het styf geword, sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie.
1KINGS 13:5 En die altaar is uitmekaargeskeur, en die as is van die altaar afgegooi volgens die wonderteken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die HERE.
1KINGS 13:6 Toe begin die koning om aan die man van God te sê: Smeek tog die aangesig van die HERE jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van God het die aangesig van die HERE om genade gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was.
1KINGS 13:7 Daarop sê die koning aan die man van God: Kom met my saam huis toe en versterk jou, en laat ek jou 'n geskenk gee.
1KINGS 13:8 Maar die man van God sê vir die koning: Al gee u my die helfte van u huis, ek kan nie met u saamgaan nie, en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie plek nie.
1KINGS 13:9 Want so het die HERE my bevel gegee deur sy woord en gesê: Jy mag geen brood eet of water drink nie, en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.
1KINGS 13:10 Hy het toe met 'n ander pad gegaan en nie teruggekeer met die pad waarmee hy na Bet-el gekom het nie.
1KINGS 13:11 En daar het 'n sekere ou profeet in Bet-el gewoon; en sy seuns het gekom en hom alles vertel wat die man van God dié dag in Bet-el gedoen het; ook die woorde wat hy met die koning gespreek het. En toe hulle dit aan hul vader vertel,
1KINGS 13:12 sê hul vader vir hulle: Met watter pad het hy gegaan? Want sy seuns het die pad gesien waarmee die man van God weer weg is wat uit Juda gekom het.
1KINGS 13:13 Toe sê hy aan sy seuns: Saal vir my die esel op. En hulle het vir hom die esel opgesaal, en hy het daarop gery.
1KINGS 13:14 En hy het agter die man van God aan gegaan en hom aangetref terwyl hy onder die terpentynboom sit; en hy sê vir hom: Is jy die man van God wat uit Juda gekom het? En hy antwoord: Ja.
1KINGS 13:15 Toe sê hy vir hom: Gaan met my saam huis toe en eet brood.
1KINGS 13:16 Maar hy antwoord: Ek kan nie met jou saam omdraai of met jou saam ingaan nie; ek mag ook nie brood eet of met jou saam water in hierdie plek drink nie;
1KINGS 13:17 want aan my is gesê deur die woord van die HERE: Jy mag daar geen brood eet of water drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.
1KINGS 13:18 Maar hy sê vir hom: Ek is ook 'n profeet net soos jy, en 'n engel het met my gespreek deur die woord van die HERE en gesê: Bring hom terug saam met jou na jou huis, dat hy brood kan eet en water kan drink. Hy het vir hom gelieg.
1KINGS 13:19 Toe het hy met hom saam omgedraai en in sy huis brood geëet en water gedrink.
1KINGS 13:20 Maar terwyl hulle aan tafel sit, kom die woord van die HERE tot die profeet wat hom laat omdraai het;
1KINGS 13:21 en hy het die man van God wat uit Juda gekom het, toegeroep en gesê: So spreek die HERE: Omdat jy wederstrewig was teen die mond van die HERE deur nie die gebod te hou wat die HERE jou God jou beveel het nie,
1KINGS 13:22 maar omgedraai en brood geëet en water gedrink het in die plek waarvan Hy aan jou gesê het: Jy moet geen brood eet of water drink nie--daarom sal jou lyk nie in die graf van jou vaders kom nie.
1KINGS 13:23 Nadat hy dan geëet en gedrink het, saal hy vir hom die esel op--vir die profeet wat hy laat omdraai het--
1KINGS 13:24 en hy gaan weg; toe kom 'n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die leeu ook langs die lyk bly staan.
1KINGS 13:25 Intussen kom daar manne verby wat die lyk op die pad sien lê, terwyl die leeu langs die lyk staan; en hulle het dit kom sê in die stad waar die ou profeet woon.
1KINGS 13:26 Toe die profeet wat hom van die pad af laat omdraai het, dit hoor, sê hy: Dit is die man van God wat teen die mond van die HERE wederstrewig was; daarom het die HERE hom aan die leeu oorgegee wat hom verskeur en hom gedood het volgens die woord van die HERE wat Hy met hom gespreek het.
1KINGS 13:27 Daarop praat hy met sy seuns en sê: Saal vir my die esel op. En hulle het opgesaal.
1KINGS 13:28 Toe gaan hy weg en vind sy lyk neergewerp op die pad, terwyl die esel en die leeu langs die lyk staan; die leeu het die lyk nie geëet en die esel nie verskeur nie.
1KINGS 13:29 Daarna het die profeet die lyk van die man van God opgetel en dit op die esel gesit en dit teruggebring en in die stad van die ou profeet gekom om te rouklaag en hom te begrawe.
1KINGS 13:30 En hy het sy lyk in sy graf neergelê, en hulle het oor hom gerouklaag: Ag, my broer!
1KINGS 13:31 En nadat hy hom begrawe het, sê hy aan sy seuns: As ek sterwe, dan moet julle my begrawe in die graf waar die man van God in begrawe is; lê my bene langs sy bene neer.
1KINGS 13:32 Want die woord sal sekerlik uitkom wat hy deur die woord van die HERE uitgeroep het teen die altaar wat in Bet-el is, en teen al die tempels van die hoogtes wat in die stede van Samaría is.
1KINGS 13:33 Ná hierdie gebeurtenis het Jeróbeam nie van sy verkeerde weg teruggekom nie, maar weer priesters van die hoogtes aangestel uit al die dele van die volk. Elkeen wat wou, dié het hy aangestel, dat hy een van die priesters van die hoogtes kon word.
1KINGS 13:34 En hierdeur was daar sonde vir die huis van Jeróbeam, en wel om dit te verdelg en uit te roei van die aarde af.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com