Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

1 Kings 17

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22]

1KINGS 17:1 En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!
1KINGS 17:2 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê:
1KINGS 17:3 Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe en steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is;
1KINGS 17:4 en jy moet uit die spruit drink, en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou daar te onderhou.
1KINGS 17:5 En hy het gegaan en gehandel volgens die woord van die HERE: hy het gaan bly by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is.
1KINGS 17:6 En die kraaie het vir hom smôrens brood en vleis gebring, en saans brood en vleis, en hy het uit die spruit gedrink.
1KINGS 17:7 Maar ná verloop van tyd het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie.
1KINGS 17:8 Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê:
1KINGS 17:9 Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan 'n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.
1KINGS 17:10 Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.
1KINGS 17:11 Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood saam.
1KINGS 17:12 Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe.
1KINGS 17:13 En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóu en jou seun iets klaarmaak.
1KINGS 17:14 Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee.
1KINGS 17:15 En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet--sy en hy en haar gesin dae lank:
1KINGS 17:16 die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.
1KINGS 17:17 Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie.
1KINGS 17:18 Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak!
1KINGS 17:19 Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed neergelê;
1KINGS 17:20 en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, 'n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe?
1KINGS 17:21 Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer.
1KINGS 17:22 En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het.
1KINGS 17:23 Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe!
1KINGS 17:24 En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u 'n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com