Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

1 Kings 20

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22]

1KINGS 20:1 En Bénhadad, die koning van Aram, het sy hele leër versamel--twee en dertig konings was saam met hom, met perde en strydwaens--en opgetrek en Samaría beleër en daarteen geveg.
1KINGS 20:2 Ook het hy boodskappers na Agab, die koning van Israel, gestuur in die stad
1KINGS 20:3 en hom laat weet: So sê Bénhadad: U silwer en u goud, dit is myne; en u mooiste vroue en kinders, hulle is myne.
1KINGS 20:4 Toe antwoord die koning van Israel en sê: Volgens u woord, my heer die koning, ek is uwe met alles wat ek het!
1KINGS 20:5 Daarop kom die boodskappers weer en sê: So spreek Bénhadad: Ek het u wel laat weet: U silwer en u goud en u vroue en u kinders moet u aan my gee.
1KINGS 20:6 Maar môre sulke tyd sal ek my dienaars na u stuur, dat hulle u huis en die huise van u dienaars deursoek; en hulle sal alles wat begeerlik is in u oë, in hulle hand lê en wegneem.
1KINGS 20:7 Toe roep die koning van Israel al die oudstes van die land en sê: Let tog op en kyk hoe die man moeilikheid soek, want hy het na my gestuur om my vroue en my kinders en my silwer en my goud te laat haal, en ek het dit hom nie geweier nie.
1KINGS 20:8 Maar al die oudstes en die hele volk antwoord hom: Luister nie, en u mag nie inwillig nie.
1KINGS 20:9 Daarom het hy aan die boodskappers van Bénhadad gesê: Sê aan my heer die koning: Alles wat u die eerste keer u dienaar laat weet het, sal ek doen; maar hierdie ding kan ek nie doen nie. En die boodskappers het weggegaan en hom antwoord gebring.
1KINGS 20:10 Daarop laat Bénhadad hom weet: Mag die gode so aan my doen en so daaraan toedoen--die puin van Samaría is nie genoeg vir die holle hande van al die manskappe wat my voetstappe volg nie!
1KINGS 20:11 Maar die koning van Israel het dit geantwoord: Sê vir hom: Die een wat hom vasgord, moet hom nie beroem soos die een wat hom losgord nie.
1KINGS 20:12 En toe hy hierdie woord hoor, terwyl hy besig was om te drink, hy en die konings in die tente, sê hy aan sy dienaars: Gooi walle op! En hulle het walle opgegooi teen die stad.
1KINGS 20:13 Opeens kom daar 'n profeet na Agab, die koning van Israel, en sê: So spreek die HERE: Het jy hierdie hele groot menigte gesien? Kyk, Ek gee hulle vandag in jou hand, dat jy kan weet dat Ek die HERE is.
1KINGS 20:14 En Agab sê: Deur wie? En hy antwoord: So spreek die HERE: Deur die jongmanne van die owerstes van die provinsies. En hy sê: Wie moet die geveg begin? En hy antwoord: U.
1KINGS 20:15 Toe tel hy die jongmanne van die owerstes van die provinsies, en hulle was twee honderd twee en dertig; en ná hulle tel hy al die manskappe, al die kinders van Israel: sewe duisend.
1KINGS 20:16 En hulle het op die middag uitgetrek terwyl Bénhadad hom dronk gedrink het in die tente, hy en die konings, die twee en dertig konings wat sy bondgenote was.
1KINGS 20:17 En die jongmanne van die owerstes van die provinsies het eerste uitgetrek. Maar Bénhadad het uitgestuur, en hulle het hom berig gebring en gesê: Uit Samaría het manne uitgetrek.
1KINGS 20:18 En hy sê: As hulle vir vrede uitgetrek het, gryp hulle lewendig; en as hulle vir oorlog uitgetrek het, gryp hulle lewendig.
1KINGS 20:19 Daarop trek die jongmanne van die owerstes van die provinsies uit die stad uit en die leër agter hulle aan;
1KINGS 20:20 en hulle verslaan elkeen sy man, sodat die Arameërs gevlug en Israel hulle agtervolg het. Maar Bénhadad, die koning van Aram, het vrygekom op 'n perd met perderuiters saam.
1KINGS 20:21 En die koning van Israel het uitgetrek en perde en strydwaens verslaan, sodat hy 'n groot slag onder die Arameërs geslaan het.
1KINGS 20:22 Toe kom die profeet na die koning van Israel en sê vir hom: Gaan, wees sterk; en ondersoek en kyk wat u moet doen; want ná verloop van 'n jaar sal die koning van Aram teen u optrek.
1KINGS 20:23 Want die dienaars van die koning van Aram het vir hom gesê: Hulle gode is berggode; daarom was hulle vir ons te sterk; maar as ons met hulle op die vlakte veg, sal ons sekerlik sterker wees as hulle.
1KINGS 20:24 Daarom, doen hierdie ding: Verwyder die konings, elkeen uit sy plek, en stel goewerneurs aan in hulle plek.
1KINGS 20:25 En werf self vir u 'n leër soos die leër wat u verloor het, en perde soos dié perde, en strydwaens soos dié waens; en laat ons teen hulle in die vlakte veg; dan sal ons sekerlik sterker wees as hulle. En hy het na hulle geluister en so gedoen.
1KINGS 20:26 En ná verloop van 'n jaar het Bénhadad die Arameërs gemonster en opgetrek na Afek om teen Israel te veg.
1KINGS 20:27 Die kinders van Israel is ook gemonster en van lewensmiddele voorsien, en het hulle tegemoetgetrek; en die kinders van Israel het teenoor hulle laer opgeslaan soos twee klompies bokke, terwyl die land vol Arameërs was.
1KINGS 20:28 Toe kom die man van God nader en sê aan die koning van Israel: So spreek die HERE: Omdat die Arameërs gesê het: Die HERE is 'n god van die berge, en Hy is nie 'n god van die laagtes nie--daarom sal Ek hierdie hele groot menigte in jou hand gee, dat julle kan weet dat Ek die HERE is.
1KINGS 20:29 En hulle was sewe dae lank teenoor mekaar gelaer; maar op die sewende dag het die geveg begin, en die kinders van Israel het van die Arameërs honderd duisend voetgangers op een dag verslaan.
1KINGS 20:30 En die wat oor was, het na Afek, na die stad gevlug, en die muur het op die sewe en twintig duisend man geval wat oor was. Bénhadad, wat ook die stad ingegaan het, het van kamer tot kamer gevlug.
1KINGS 20:31 Toe sê sy dienaars vir hom: Kyk tog, ons het gehoor dat die konings van die huis van Israel genadige konings is; laat ons tog rouklere om ons heupe bind en bande om ons hoofde en uitgaan na die koning van Israel; moontlik sal hy u in die lewe behou.
1KINGS 20:32 Toe het hulle rouklere om hul heupe vasgegord en bande om hul hoofde en na die koning van Israel gekom en gesê: U dienaar Bénhadad sê: Laat my tog lewe! En hy antwoord: Lewe hy dan nog? Hy is my broer.
1KINGS 20:33 En die manne het hulle dit dadelik toegeëien as 'n gunstige voorteken van sy kant en gesê: Bénhadad is u broer! Daarop sê hy: Gaan haal hom. En Bénhadad het uitgekom na hom, en hy het hom op die wa laat klim.
1KINGS 20:34 En Bénhadad sê vir hom: Die stede wat my vader van u vader afgeneem het, sal ek teruggee, en u kan vir u winkelstrate aanlê in Damaskus soos my vader in Samaría aangelê het. En ek, sê Agab, sal u op hierdie verbond laat gaan. Hy het toe 'n verbond met hom gesluit en hom laat gaan.
1KINGS 20:35 Daarna het 'n sekere man uit die profete-seuns deur die woord van die HERE aan sy maat gesê: Slaan my tog! Maar die man het geweier om hom te slaan.
1KINGS 20:36 Toe sê hy vir hom: Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister het nie, kyk, as jy van my af weggaan, sal 'n leeu jou doodmaak. En toe hy van hom af weggaan, het 'n leeu hom gekry en hom gedood.
1KINGS 20:37 Daarna het hy 'n ander man gekry en gesê: Slaan my tog! En die man het hom so geslaan, dat hy hom gewond het.
1KINGS 20:38 Toe vertrek die profeet en gaan die koning op die pad voorstaan; daarby maak hy homself onkenbaar met 'n verband oor sy oë.
1KINGS 20:39 En terwyl die koning verbygaan, roep hy na die koning en sê: U dienaar het uitgetrek in die geveg; en daar kom iemand eenkant toe en bring 'n man na my en sê: Bewaak hierdie man; as hy ooit gemis word, sal jou lewe in die plek van sy lewe wees, of jy sal 'n talent silwer moet betaal.
1KINGS 20:40 Maar onderwyl u dienaar hier en daar besig was, het hy verdwyn. Toe sê die koning van Israel vir hom: So is jou vonnis: jy het dit self bepaal.
1KINGS 20:41 Daarop neem hy gou die verband van sy oë af weg en die koning van Israel herken hom, dat hy een van die profete was.
1KINGS 20:42 En hy sê vir hom: So spreek die HERE: Omdat jy die man wat deur my banvloek getref was, uit die hand laat gaan het, daarom sal jou siel in die plek van sy siel en jou volk in die plek van sy volk wees.
1KINGS 20:43 En die koning van Israel het na sy huis getrek, verbitterd en toornig, en hy het in Samaría aangekom.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com