Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

1 Kings 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22]

1KINGS 16:1 Toe het die woord van die HERE gekom tot Jehu, die seun van Hanáni, teen Baésa, en gesê:
1KINGS 16:2 Omdat Ek jou uit die stof opgehef en jou as 'n vors oor my volk Israel aangestel het, maar jy in die weg van Jeróbeam gewandel en my volk Israel laat sondig het, om My te terg deur hulle sondes,
1KINGS 16:3 daarom sal Ek Baésa en sy huis skoon wegvee, en Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat.
1KINGS 16:4 Die een wat van Baésa in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie van hom in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet.
1KINGS 16:5 En die verdere geskiedenis van Baésa en wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
1KINGS 16:6 En Baésa het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in Tirsa; en sy seun Ela het in sy plek koning geword.
1KINGS 16:7 Ook het die woord van die HERE deur die diens van Jehu, die seun van Hanáni, die profeet, gekom teen Baésa en teen sy huis, nie alleen oor al die kwaad wat hy in die oë van die HERE gedoen het, deur Hom te terg met sy handewerk om soos die huis van Jeróbeam te wees nie, maar ook omdat hy hom verslaan het.
1KINGS 16:8 In die ses en twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Ela, die seun van Baésa, oor Israel koning geword in Tirsa, twee jaar lank.
1KINGS 16:9 Maar sy dienaar Simri, die owerste oor die helfte van die strydwaens, het 'n sameswering teen hom gesmee: terwyl hy hom dronk gedrink het in Tirsa, in die huis van Arsa, wat oor die paleis in Tirsa was,
1KINGS 16:10 het Simri ingekom en hom verslaan en hom gedood in die sewe en twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het in sy plek koning geword.
1KINGS 16:11 En toe hy koning was, terwyl hy op die troon sit, het hy die hele huis van Baésa verwoes; hy het vir hom niemand laat oorbly wat manlik is nie, ook nie sy bloedwrekers en vriende nie.
1KINGS 16:12 So het Simri dan die hele huis van Baésa verdelg volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het oor Baésa deur die diens van die profeet Jehu,
1KINGS 16:13 vanweë al die sondes van Baésa en die sondes van sy seun Ela wat hulle gedoen het en waarmee hulle Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode.
1KINGS 16:14 En die verdere geskiedenis van Ela en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
1KINGS 16:15 In die sewe en twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, was Simri sewe dae lank koning in Tirsa, terwyl die manskappe Gíbbeton beleër wat aan die Filistyne behoort het.
1KINGS 16:16 En toe die manskappe wat beleër, hoor sê: Simri het 'n sameswering gesmee en ook die koning doodgeslaan, het die hele Israel Omri, die leërowerste, koning gemaak oor Israel, dieselfde dag in die laer.
1KINGS 16:17 En Omri het opgetrek en die hele Israel saam met hom van Gíbbeton af en Tirsa beleër.
1KINGS 16:18 Net toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die koning se huis ingegaan en die huis van die koning bo-op hom aan die brand gesteek, sodat hy gesterf het,
1KINGS 16:19 vanweë sy sondes wat hy begaan het deur te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, deur te wandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig.
1KINGS 16:20 En die verdere geskiedenis van Simri en sy sameswering wat hy gesmee het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
1KINGS 16:21 Toe is die volk van Israel verdeel in twee helftes: een helfte van die volk het Tibni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri gevolg.
1KINGS 16:22 Maar die volk wat Omri gevolg het, was te sterk vir die volk wat Tibni, die seun van Ginat, gevolg het; en Tibni het gesterwe, en Omri het koning geword.
1KINGS 16:23 In die een en dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar lank; in Tirsa was hy ses jaar koning.
1KINGS 16:24 En hy het die berg Samaría van Semer gekoop vir twee talente silwer en die berg bebou en die stad wat hy gebou het, Samaría genoem na die naam van Semer, die eienaar van die berg.
1KINGS 16:25 En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers.
1KINGS 16:26 Hy het naamlik gewandel in al die weë van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode.
1KINGS 16:27 En die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het, en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
1KINGS 16:28 En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab het in sy plek koning geword.
1KINGS 16:29 En Agab, die seun van Omri, het oor Israel koning geword in die agt en dertigste jaar van Asa, die koning van Juda; en Agab, die seun van Omri, het in Samaría oor Israel twee en twintig jaar geregeer.
1KINGS 16:30 En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers.
1KINGS 16:31 En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig,
1KINGS 16:32 en vir Baäl 'n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het.
1KINGS 16:33 Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers.
1KINGS 16:34 In sy dae het Hiël, van Bet-el, Jérigo opgebou; ten koste van Abíram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com