Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Joshua 14

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

JOSH 14:1 En dit is wat die kinders van Israel as erfdeel in die land Kanaän ontvang het, wat Eleásar, die priester, en Josua, die seun van Nun, en die familiehoofde van die stamme van die kinders van Israel aan hulle as erfenis uitgedeel het
JOSH 14:2 deur verloting van hulle erfdeel, soos die HERE deur die diens van Moses beveel het, met betrekking tot die nege en 'n halwe stam.
JOSH 14:3 Want Moses het die erfdeel van die twee en 'n halwe stam oos van die Jordaan gegee, maar aan die Leviete het hy geen erfdeel onder hulle gegee nie.
JOSH 14:4 Want die kinders van Josef was twee stamme: Manasse en Efraim; maar aan die Leviete het hulle geen aandeel in die land gegee nie, behalwe stede om in te woon, met hulle weiveld vir hulle vee en hulle goed.
JOSH 14:5 Soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen en die land verdeel.
JOSH 14:6 Toe het die kinders van Juda nader gekom na Josua in Gilgal, en Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, het vir hom gesê: U weet die woord wat die HERE met Moses, die man van God in Kades-Barnéa gespreek het met betrekking tot my en met betrekking tot u.
JOSH 14:7 Veertig jaar was ek oud toe Moses, die kneg van die HERE, my uitgestuur het van Kades-Barnéa af om die land te verken, en ek het hom berig gebring soos dit in my hart was;
JOSH 14:8 maar my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat versmelt, terwyl ek volgehou het om die HERE my God te volg.
JOSH 14:9 En dié dag het Moses gesweer en gesê: Waarlik, die land wat jou voet betree het, sal aan jou en aan jou kinders in ewigheid as 'n erfdeel behoort, omdat jy volgehou het om die HERE my God te volg.
JOSH 14:10 En nou, kyk, die HERE het my laat lewe, soos Hy gespreek het, nou al vyf en veertig jaar sedert die HERE hierdie woord met Moses gespreek het toe Israel in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag vyf en tagtig jaar oud;
JOSH 14:11 ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog, om te veg en om uit te gaan en in te gaan.
JOSH 14:12 Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het.
JOSH 14:13 Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee.
JOSH 14:14 Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die HERE, die God van Israel, te volg.
JOSH 14:15 En die naam van Hebron was tevore stad van Arba; hy was die grootste man onder die Enakiete. En die land het gerus van oorlog.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com