Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Joshua 24

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

JOSH 24:1 Daarna het Josua al die stamme van Israel byeen laat kom in Sigem, en hy het die oudstes van Israel en sy hoofde en sy regters en sy opsigters laat roep, en hulle het hul voor die aangesig van God gestel.
JOSH 24:2 Toe sê Josua aan die hele volk: So sê die HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon--Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien.
JOSH 24:3 Maar Ek het julle vader Abraham van oorkant die Eufraat af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek en sy nageslag vermeerder en Isak aan hom gegee;
JOSH 24:4 en aan Isak het Ek Jakob en Esau gegee, en aan Esau het Ek die gebergte Seïr gegee, om dit in besit te neem; maar Jakob en sy kinders het na Egipte afgetrek.
JOSH 24:5 Toe het Ek Moses en Aäron gestuur en Egipte getref soos Ek dit daar gedoen het, en daarna het Ek julle uitgelei.
JOSH 24:6 Toe Ek julle vaders uit Egipte uitgelei het, het julle by die see gekom; maar die Egiptenaars het julle vaders agternagejaag met strydwaens en perderuiters na die Skelfsee toe;
JOSH 24:7 maar hulle het die HERE aangeroep, en Hy het 'n duisternis gestel tussen julle en die Egiptenaars en die see oor hulle laat kom, sodat dit hulle oordek het, en julle eie oë het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het. Daarna het julle baie dae in die woestyn gebly.
JOSH 24:8 Daarop het Ek julle gebring in die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het, en hulle het teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hul land in besit geneem het, en Ek het hulle voor julle uit verdelg.
JOSH 24:9 Toe het Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, hom klaargemaak en teen Israel geveg; en hy het gestuur om Bíleam, die seun van Beor, te roep om julle te vervloek;
JOSH 24:10 maar Ek wou nie na Bíleam luister nie, sodat hy julle net geseën het; en Ek het julle uit sy hand gered.
JOSH 24:11 Toe julle die Jordaan deurgetrek en by Jérigo gekom het, het die burgers van Jérigo, die Amoriete en Feresiete en Kanaäniete en Hetiete en Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee
JOSH 24:12 en perdebye voor julle uit gestuur, wat hulle voor julle uit verdryf het, --die twee konings van die Amoriete--nie deur jou swaard en nie deur jou boog nie.
JOSH 24:13 So het Ek julle dan 'n land gegee waar julle nie aan gearbei en stede wat julle nie gebou het nie, dat julle daarin kan woon; wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie, daar eet julle van.
JOSH 24:14 Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.
JOSH 24:15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.
JOSH 24:16 Toe antwoord die volk en sê: Dit is ver van ons, dat ons die HERE sou verlaat om ander gode te dien;
JOSH 24:17 want die HERE onse God, dit is Hy wat ons en ons vaders uit Egipteland uit die slawehuis laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens gedoen het en ons bewaar het op die hele pad wat ons gegaan en onder al die volke waar ons dwarsdeur getrek het;
JOSH 24:18 en die HERE het al die volke en die Amoriet, die inwoner van die land, voor ons uit verdrywe. Ook ons sal die HERE dien, want Hy is onse God.
JOSH 24:19 Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die HERE nie dien nie, want Hy is 'n heilige God, Hy is 'n jaloerse God; Hy sal julle oortreding en julle sondes nie vergewe nie.
JOSH 24:20 As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het.
JOSH 24:21 Toe sê die volk vir Josua: Nee, maar ons sal die HERE dien.
JOSH 24:22 Daarop sê Josua aan die volk: Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself die HERE gekies het om Hom te dien. En hulle sê: Ons is getuies.
JOSH 24:23 Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is, en neig julle hart tot die HERE, die God van Israel.
JOSH 24:24 Daarop sê die volk aan Josua: Ons sal die HERE onse God dien en na sy stem luister.
JOSH 24:25 En op dié dag het Josua met die volk 'n verbond gesluit en vir hulle 'n insetting en 'n reg vasgestel in Sigem.
JOSH 24:26 En Josua het hierdie woorde in die wetboek van God geskrywe en'n groot klip geneem en dié daar opgerig onder die eikeboom wat by die heilige plek van die HERE is.
JOSH 24:27 Toe sê Josua aan die hele volk: Kyk, hierdie klip sal 'n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die HERE gehoor wat Hy met ons gespreek het; en hy sal 'n getuie teen julle wees, sodat julle jul God nie verloën nie.
JOSH 24:28 Toe het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy erfdeel toe.
JOSH 24:29 En ná hierdie dinge het Josua, die seun van Nun, die kneg van die HERE, gesterwe, honderd en-tien jaar oud.
JOSH 24:30 En hulle het hom begrawe op die grondgebied van sy erfdeel in Timnat-Serag wat op die gebergte van Efraim lê, noord van die berg Gaäs.
JOSH 24:31 En Israel het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat lank ná Josua nog in die lewe was en met al die werke van die HERE bekend was wat Hy vir Israel gedoen het.
JOSH 24:32 Ook die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte saamgebring het, het hulle begrawe in Sigem, op die stuk grond wat Jakob van die kinders van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke gekoop het, en wat die kinders van Josef as erfdeel ontvang het.
JOSH 24:33 En toe Eleásar, die seun van Aäron, gesterf het, het hulle hom begrawe op die heuwel van sy seun Pínehas wat aan hom gegee was op die gebergte Efraim.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com