Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Joshua 17

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24]

JOSH 17:1 Verder was dít die lot vir die stam van Manasse, omdat hy die eersgeborene van Josef was: Magir, die eersgeborene van Manasse, die vader van Gílead, het, omdat hy 'n krygsman was, Gílead en Basan ontvang;
JOSH 17:2 ook die ander kinders van Manasse, volgens hulle geslagte, het 'n aandeel ontvang: die kinders van Abiëser en die kinders van Helek en die kinders van Asriël en die kinders van Segem en die kinders van Hefer en die kinders van Semída; dit is die manlike kinders van Manasse, die seun van Josef, volgens hulle geslagte.
JOSH 17:3 Maar Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, het nie seuns gehad nie, maar net dogters; en dit is die name van sy dogters: Magla en Noa, Hogla, Milka en Tirsa;
JOSH 17:4 en hulle het nader gekom voor Eleásar, die priester, en voor Josua, die seun van Nun, en voor die owerstes, en gesê: Die HERE het Moses beveel om ons 'n erfdeel te gee onder ons broers. Daarop het hy hulle 'n erfdeel gegee, volgens die bevel van die HERE, onder die broers van hulle vader.
JOSH 17:5 So het dan aan Manasse tien aandele geval, behalwe die land Gílead en Basan wat oorkant die Jordaan lê.
JOSH 17:6 Want die dogters van Manasse het 'n erfdeel ontvang onder sy seuns, terwyl die land Gílead aan die ander kinders van Manasse behoort het.
JOSH 17:7 En die lyn van Manasse was: van Aser af na Mígmetat, teenoor Sigem; dan loop die lyn regs na die inwoners van En-Tappúag--
JOSH 17:8 die landstreek van Tappúag het behoort aan Manasse, maar Tappúag, aan die grens van Manasse, aan die kinders van Efraim--;
JOSH 17:9 verder loop die lyn af na die spruit Kana, suid van die spruit: daardie stede, onder die stede van Manasse, behoort aan Efraim; en die lyn van Manasse is noord van die spruit en loop dood by die see.
JOSH 17:10 Suid behoort dit aan Efraim, maar noord aan Manasse; en die see is sy lyn; dan raak hulle in die noorde aan Aser en in die ooste aan Issaskar.
JOSH 17:11 En aan Manasse behoort in Issaskar en Aser: Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van En-Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke, die drie hoogtes.
JOSH 17:12 Maar die kinders van Manasse kon hierdie stede nie in besit neem nie, en die Kanaäniete het verkies om in dié land te bly woon.
JOSH 17:13 En toe die kinders van Israel sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dienspligtig gemaak, maar hulle nie geheel en al verdrywe nie.
JOSH 17:14 Toe het die kinders van Josef met Josua gespreek en gesê: Waarom het u my as erfdeel net een lot en een aandeel gegee terwyl ek tog 'n groot volk is, omdat die HERE my tot hiertoe geseën het?
JOSH 17:15 En Josua het vir hulle gesê: As jy 'n groot volk is, trek dan op na die boswêreld en kap vir jou daar 'n plek skoon in die land van die Feresiete en Refaïete, ingeval die gebergte van Efraim vir jou te nou is.
JOSH 17:16 Maar die kinders van Josef het gesê: Die gebergte sal nie vir ons genoeg wees nie, en al die Kanaäniete wat in die lae streke woon, het ysterwaens, dié van Bet-Sean met sy onderhorige plekke sowel as dié van die laagte van Jísreël.
JOSH 17:17 Toe het Josua met die huis van Josef, met Efraim en Manasse gespreek en gesê: Jy is 'n groot volk en jy het groot krag: jy sal nie net een lot hê nie;
JOSH 17:18 want die gebergte sal joue wees--'n boswêreld is dit naamlik, en jy moet dit skoonkap; dan sal die uitlopers daarvan joue wees; want jy moet die Kanaäniet verdrywe, al het hy ysterwaens, al is hy sterk.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com