Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Leviticus 10

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27]

LEV 10:1 En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie.
LEV 10:2 Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.
LEV 10:3 Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik. Maar Aäron het stilgebly.
LEV 10:4 En Moses het Mísael en Élsafan, die seuns van Ussíël, die oom van Aäron, geroep en aan hulle gesê: Kom nader, dra julle broers van die heiligdom af weg, buitekant die laer uit.
LEV 10:5 Toe het hulle nader gekom en hulle in hul rokke buitekant die laer uitgedra soos Moses gesê het.
LEV 10:6 Daarop sê Moses aan Aäron en sy seuns Eleásar en Itamar: Laat julle hare nie loshang nie en maak geen skeure in julle klere nie, dat julle nie sterwe en Hy in toorn teen die hele vergadering losbreek nie. Maar julle broers, die hele huis van Israel, kan die brand beween wat die HERE aangesteek het.
LEV 10:7 Julle mag ook uit die ingang van die tent van samekoms nie uitgaan nie, dat julle nie sterwe nie; want die salfolie van die HERE is op julle. En hulle het gehandel ooreenkomstig die woord van Moses.
LEV 10:8 En die HERE het met Aäron gespreek en gesê:
LEV 10:9 Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; 'n ewige insetting is dit vir julle geslagte;
LEV 10:10 en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;
LEV 10:11 en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die HERE deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.
LEV 10:12 En Moses het met Aäron gespreek en met sy seuns Eleásar en Itamar wat oorgebly het: Neem die spysoffer wat van die vuuroffers van die HERE oorgebly het, en eet dit as ongesuurde koeke langs die altaar; want dit is hoogheilig.
LEV 10:13 Daarom moet julle dit op 'n heilige plek eet, want dit is wat aan jou en jou seuns toekom uit die vuuroffers van die HERE; want so is aan my bevel gegee.
LEV 10:14 Ook die beweegbors en die hefboud moet julle op 'n rein plek eet, jy en jou seuns en jou dogters saam met jou; want as deel wat aan jou en jou seuns toekom, is hulle uit die dankoffers van die kinders van Israel gegee.
LEV 10:15 Die hefboud en die beweegbors moet hulle saam met die vuuroffers van die stukke vet bring om as beweegoffer voor die aangesig van die HERE te beweeg; en dit sal vir jou en jou seuns saam met jou 'n deel wees wat aan julle vir ewig toekom soos die HERE beveel het.
LEV 10:16 En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:
LEV 10:17 Waarom het julle die sondoffer nie op 'n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE.
LEV 10:18 Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het.
LEV 10:19 Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE?
LEV 10:20 Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com