Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Leviticus 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27]

LEV 11:1 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en aan hulle gesê:
LEV 11:2 Spreek met die kinders van Israel en sê: Dit is die diere wat julle mag eet van al die viervoetige diere wat op die aarde is.
LEV 11:3 Alles wat onder die diere gesplitste kloue het, en wel heeltemal gesplitste kloue, en herkou dit mag julle eet.
LEV 11:4 Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat gesplitste kloue het: die kameel, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle;
LEV 11:5 en die das, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle;
LEV 11:6 en die haas, want hy herkou, maar het geen gesplitste kloue nie onrein is hy vir julle;
LEV 11:7 ook die vark, want hy het gesplitste kloue, ja, heeltemal gesplitste kloue, maar hy herkou nie onrein is hy vir julle.
LEV 11:8 Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle aas nie raak nie onrein is hulle vir julle.
LEV 11:9 Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere dit mag julle eet.
LEV 11:10 Maar alles wat geen vinne en skubbe het in die seë en in die riviere nie, van al die gewemel van die water en van al die lewende wesens wat in die water is 'n gruwel is dit vir julle.
LEV 11:11 Ja, 'n gruwel moet hulle vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie, en hulle aas moet julle vir 'n gruwel hou.
LEV 11:12 Alles wat geen vinne of skubbe in die water het nie 'n gruwel is dit vir julle.
LEV 11:13 En die volgende moet julle van die voëls vir 'n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, 'n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël;
LEV 11:14 en die kuikendief en die valk volgens sy soorte;
LEV 11:15 elke kraai volgens sy soorte;
LEV 11:16 en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk volgens sy soorte;
LEV 11:17 en die steenuil en die visvanger en die steunuil;
LEV 11:18 en die silweruil en die pelikaan en die klein aasvoël;
LEV 11:19 en die groot sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep hoep en die vlermuis.
LEV 11:20 Al die insekte met vlerke wat op vier pote loop 'n gruwel is hulle vir julle.
LEV 11:21 Maar die volgende mag julle eet van al die insekte met vlerke wat op vier pote loop: wat bokant die pote springbene het om daarmee op die grond te spring.
LEV 11:22 Van hulle mag julle die volgende eet: die treksprinkaan volgens sy soorte en die boomsprinkaan volgens sy soorte en die springer volgens sy soorte en die voetganger volgens sy soorte.
LEV 11:23 Maar al die ander insekte met vlerke wat vier pote het 'n gruwel is hulle vir julle.
LEV 11:24 En deur hierdie diere word julle verontreinig elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees;
LEV 11:25 en elkeen wat van hulle aas dra, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees
LEV 11:26 aan al die diere wat gesplitste kloue het, wat nie heeltemal gesplits is nie, en wat nie herkou nie. Onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle raak, sal onrein wees.
LEV 11:27 En alles wat op kaal pote loop onder al die viervoetige diere onrein is hulle vir julle; elkeen wat aan hulle aas raak, sal tot die aand toe onrein wees.
LEV 11:28 Ook hy wat hulle aas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. Onrein is hulle vir julle.
LEV 11:29 En die volgende is vir julle onrein onder die ongediertes wat op die aarde wemel: die mol en die muis en die akkedis volgens sy soorte,
LEV 11:30 en die krimpvarkie en die geitjie en die klipsalmander en die koggelmander en die verkleurmannetjie.
LEV 11:31 Hulle is vir julle onrein onder al die ongediertes; elkeen wat aan hulle raak as hulle dood is, sal tot die aand toe onrein wees.
LEV 11:32 En alles waar een van hulle op val as hulle dood is, sal onrein wees; enige houtvoorwerp of kledingstuk of vel of sak, elke ding waarmee werk gedoen word; dit moet in die water gesit word en sal tot die aand toe onrein wees; dan sal dit rein wees.
LEV 11:33 En elke erdevoorwerp waar een van hulle in val alles wat daarin is, sal onrein wees, en julle moet die voorwerp self stukkend breek;
LEV 11:34 enige voedsel wat geëet word waar water op kom, sal daarin onrein wees; en enige drank wat in so 'n voorwerp, van watter soort ook, gedrink kan word, sal onrein wees.
LEV 11:35 En alles waar iets van hulle aas op val, sal onrein wees; 'n bakoond of 'n drievoet moet stukkend geslaan word; hulle is onrein, en onrein moet hulle vir julle wees.
LEV 11:36 Maar 'n fontein of put, 'n versamelplek van water, sal rein wees; maar hy wat aan die aas daarin raak, sal onrein wees.
LEV 11:37 En as van hulle aas val op enige saad wat gesaai word dit sal rein wees.
LEV 11:38 Maar as daar water op die saad gegooi word, en van hulle aas daarop val, dan sal dit vir julle onrein wees.
LEV 11:39 En as daar van die diere wat julle as voedsel dien, doodgaan, sal hy wat aan die aas raak, tot die aand toe onrein wees;
LEV 11:40 en hy wat van dié aas eet, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. En hy wat dié aas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe.
LEV 11:41 En al die ongediertes wat op die aarde wemel, is 'n gruwel dit mag nie geëet word nie.
LEV 11:42 Alles wat op die buik seil en alles wat op vier pote loop, ook alles wat baie pote het, naamlik al die ongediertes wat op die aarde wemel julle mag dit nie eet nie, want dit is 'n gruwel.
LEV 11:43 Moenie julle self 'n gruwel maak deur enige ongedierte wat wemel nie: julle moet jul daaraan nie verontreinig, sodat julle daardeur onrein word nie.
LEV 11:44 Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie.
LEV 11:45 Want Ek is die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is.
LEV 11:46 Dit is die wet oor die diere en die voëls en al die lewende wesens wat roer in die water en aangaande al die wesens wat op die aarde wemel,
LEV 11:47 om te onderskei tussen wat onrein en rein is, en tussen die diere wat geëet en die diere wat nie geëet mag word nie.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com