Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Leviticus 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27]

LEV 16:1 En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het;
LEV 16:2 en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel.
LEV 16:3 Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met 'n jong bul as sondoffer en 'n ram as brandoffer.
LEV 16:4 Hy moet 'n heilige linnerok aantrek en 'n linnebroek moet oor sy vlees wees en met 'n linnegordel moet hy hom gord en 'n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.
LEV 16:5 En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem.
LEV 16:6 Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en sy huis versoening doen.
LEV 16:7 Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms.
LEV 16:8 En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel.
LEV 16:9 Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom as sondoffer berei;
LEV 16:10 maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.
LEV 16:11 Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is,
LEV 16:12 en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring.
LEV 16:13 En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie.
LEV 16:14 En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel.
LEV 16:15 Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.
LEV 16:16 So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon.
LEV 16:17 En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir sy huis en vir die hele vergadering van Israel.
LEV 16:18 Dan moet hy na die altaar uitgaan wat voor die aangesig van die HERE is en daarvoor versoening doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok neem en dit rondom aan die horings van die altaar stryk
LEV 16:19 en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel. So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel.
LEV 16:20 En as hy die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom;
LEV 16:21 en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur 'n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur.
LEV 16:22 So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na 'n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.
LEV 16:23 Dan moet Aäron in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê.
LEV 16:24 En hy moet sy liggaam op 'n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om vir hom en vir die volk versoening te doen.
LEV 16:25 Ook moet hy die vet van die sondoffer op die altaar aan die brand steek.
LEV 16:26 En hy wat die bok vir Asásel weggedrywe het, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.
LEV 16:27 Maar die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om versoening te doen in die heiligdom, moet hulle buitekant die laer uitbring; en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.
LEV 16:28 En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.
LEV 16:29 En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.
LEV 16:30 Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word.
LEV 16:31 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is 'n ewige insetting.
LEV 16:32 En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere, die heilige klere, aantrek
LEV 16:33 en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die tent van samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk van die vergadering moet hy versoening doen.
LEV 16:34 En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen soos die HERE Moses beveel het.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com