Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Leviticus 23

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27]

LEV 23:1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
LEV 23:2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is my feestye.
LEV 23:3 Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit 'n dag van volkome rus, 'n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie dit is 'n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.
LEV 23:4 Dit is die feestye van die HERE, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.
LEV 23:5 In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE;
LEV 23:6 en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.
LEV 23:7 Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
LEV 23:8 Maar julle moet sewe dae lank aan die HERE 'n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
LEV 23:9 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
LEV 23:10 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.
LEV 23:11 En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.
LEV 23:12 Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, 'n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan die HERE berei,
LEV 23:13 en die spysoffer wat daarby behoort, twee tiendes van 'n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die HERE, 'n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, 'n kwart hin.
LEV 23:14 En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.
LEV 23:15 Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees;
LEV 23:16 tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle 'n nuwe spysoffer aan die HERE bring.
LEV 23:17 Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van 'n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die HERE.
LEV 23:18 Julle moet ook by die brood sewe jaaroud lammers sonder gebrek en een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet 'n brandoffer aan die HERE wees saam met die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
LEV 23:19 En julle moet een bokram as sondoffer berei. Ook twee jaaroud lammers as dankoffer,
LEV 23:20 en die priester moet hulle saam met die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg saam met die twee lammers; dié moet aan die HERE heilig wees, ten voordele van die priester.
LEV 23:21 En julle moet op daardie selfde dag uitroep: 'n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is 'n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.
LEV 23:22 En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.
LEV 23:23 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
LEV 23:24 Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle 'n rusdag wees, 'n gedenkdag deur basuingeklank, 'n heilige vierdag.
LEV 23:25 Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die HERE 'n vuuroffer bring.
LEV 23:26 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
LEV 23:27 Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. 'n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die HERE 'n vuuroffer bring.
LEV 23:28 En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is 'n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die HERE julle God.
LEV 23:29 Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
LEV 23:30 Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit.
LEV 23:31 Julle mag géén werk doen nie; dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.
LEV 23:32 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou.
LEV 23:33 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
LEV 23:34 Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE.
LEV 23:35 Op die eerste dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
LEV 23:36 Sewe dae lank moet julle aan die HERE 'n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE 'n vuuroffer bring. Dit is 'n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie.
LEV 23:37 Dit is die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die HERE 'n vuuroffer te bring: 'n brandoffer en spysoffer, 'n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe;
LEV 23:38 behalwe die sabbatte van die HERE en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die HERE gee.
LEV 23:39 Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag.
LEV 23:40 En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die HERE julle God vrolik wees.
LEV 23:41 En julle moet dit as fees van die HERE sewe dae in die jaar vier. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier.
LEV 23:42 Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon,
LEV 23:43 sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.
LEV 23:44 So het Moses dan die feestye van die HERE aan die kinders van Israel bekend gemaak.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com