Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Leviticus 25

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27]

LEV 25:1 Verder het die HERE met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:
LEV 25:2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land 'n sabbat hou vir die HERE.
LEV 25:3 Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
LEV 25:4 maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, 'n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.
LEV 25:5 Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet 'n jaar van rus vir die land wees.
LEV 25:6 En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef,
LEV 25:7 en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.
LEV 25:8 Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege en veertig jaar is.
LEV 25:9 Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, 'n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan.
LEV 25:10 En julle moet die vyftigste jaar heilig en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle 'n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.
LEV 25:11 'n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie.
LEV 25:12 Want dit is 'n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.
LEV 25:13 In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
LEV 25:14 Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
LEV 25:15 volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar 'n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;
LEV 25:16 volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste.
LEV 25:17 Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God.
LEV 25:18 En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.
LEV 25:19 En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.
LEV 25:20 En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie?
LEV 25:21 dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.
LEV 25:22 En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet.
LEV 25:23 Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.
LEV 25:24 Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat.
LEV 25:25 As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.
LEV 25:26 En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing,
LEV 25:27 moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan.
LEV 25:28 Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.
LEV 25:29 En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; 'n jaar lank moet daar reg van lossing wees.
LEV 25:30 Maar as dit nie gelos word voordat 'n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie.
LEV 25:31 Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word.
LEV 25:32 Wat die stede van die Leviete aangaan, die huise in die stede wat in hulle besit is vir die Leviete moet daar 'n ewige reg van lossing wees.
LEV 25:33 En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel.
LEV 25:34 En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is 'n ewige besitting vir hulle.
LEV 25:35 En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos 'n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe.
LEV 25:36 Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe.
LEV 25:37 Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.
LEV 25:38 Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle God te wees.
LEV 25:39 En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie.
LEV 25:40 Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien;
LEV 25:41 dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan.
LEV 25:42 Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos 'n mens 'n slaaf verkoop nie.
LEV 25:43 Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees.
LEV 25:44 Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle 'n slaaf of slavin koop.
LEV 25:45 En ook van die kinders van die bywoners wat by julle vertoef van hulle mag julle koop en van hulle geslag wat by julle is, wat hulle in julle land verwek het; en dié sal vir julle 'n besitting wees.
LEV 25:46 En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as 'n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander oor hom mag jy nie met hardheid heers nie.
LEV 25:47 En as 'n vreemdeling of bywoner by jou vermoënd word, en jou broer by hom verarm en hy homself aan 'n vreemdeling of bywoner by jou verkoop, of aan 'n familielid uit die geslag van 'n vreemdeling,
LEV 25:48 dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg van lossing wees; een van sy broers kan hom los,
LEV 25:49 of sy oom of sy oom se seun kan hom los, of een van sy naaste bloedverwante uit sy geslag kan hom los, of as hy dit kan bekostig, kan hy homself los.
LEV 25:50 En hy moet met sy koper reken van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. En die prys waarvoor hy hom verkoop het, moet wees volgens die aantal jare; soos 'n dagloner sal hy dan dié tyd by hom gewees het.
LEV 25:51 As daar nog baie jare is, moet hy volgens hulle sy losprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee;
LEV 25:52 en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy daarmee rekening hou; volgens dié jare moet hy sy losprys teruggee.
LEV 25:53 Soos een wat van jaar tot jaar loonarbeider is, moet hy by hom wees; hy mag nie met hardheid oor hom voor jou oë heers nie.
LEV 25:54 En as hy nie op dié wyse gelos word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom.
LEV 25:55 Want die kinders van Israel is my knegte; my knegte is hulle wat Ek uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com