Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Numbers 13

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36]

NUM 13:1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
NUM 13:2 Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen 'n owerste onder hulle.
NUM 13:3 En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE--hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel.
NUM 13:4 En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur.
NUM 13:5 Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori.
NUM 13:6 Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne.
NUM 13:7 Van die stam van Issaskar: Jígeal, die seun van Josef.
NUM 13:8 Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun.
NUM 13:9 Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu.
NUM 13:10 Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi.
NUM 13:11 Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi.
NUM 13:12 Van die stam van Dan: Ammíël, die seun van Gemálli.
NUM 13:13 Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael.
NUM 13:14 Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi.
NUM 13:15 Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi.
NUM 13:16 Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; En Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem.
NUM 13:17 En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte.
NUM 13:18 En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is;
NUM 13:19 en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings;
NUM 13:20 ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe.
NUM 13:21 En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat--
NUM 13:22 hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.
NUM 13:23 Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar 'n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan 'n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.
NUM 13:24 Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het.
NUM 13:25 En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken.
NUM 13:26 En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien.
NUM 13:27 En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.
NUM 13:28 Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
NUM 13:29 Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan.
NUM 13:30 Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
NUM 13:31 Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.
NUM 13:32 So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is 'n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne.
NUM 13:33 Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com