Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Numbers 15

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36]

NUM 15:1 Daarna het die HERE met Moses gespreek en gesê:
NUM 15:2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land van julle inwoning kom wat Ek aan julle gee,
NUM 15:3 en julle 'n vuuroffer aan die HERE wil berei, 'n brandoffer of slagoffer--deur 'n besondere gelofte te volbring of as vrywillige offer of by julle feestye--om vir die HERE 'n lieflike geur van beeste of van kleinvee te berei,
NUM 15:4 dan moet die een wat sy offer aan die HERE bring, as spysoffer bring 'n tiende van 'n efa fynmeel, gemeng met 'n kwart-hin olie;
NUM 15:5 en wyn vir die drankoffer, 'n kwart-hin, moet jy berei by die brandoffer of vir die slagoffer, vir elke lam.
NUM 15:6 Of vir 'n ram moet jy as spysoffer berei twee-tiendes van 'n efa fynmeel, met 'n derde van 'n hin olie gemeng.
NUM 15:7 En 'n derde van 'n hin wyn vir die drankoffer moet jy as lieflike geur aan die HERE bring.
NUM 15:8 En as jy 'n jong bul as brandoffer of slagoffer berei, deur 'n besondere gelofte te volbring of as dankoffer aan die HERE,
NUM 15:9 moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van 'n efa fynmeel met 'n half-hin olie gemeng.
NUM 15:10 En vir die drankoffer moet jy 'n half-hin wyn bring, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
NUM 15:11 So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by 'n lam van die skape of van die bokke.
NUM 15:12 Volgens die getal wat julle berei--so moet julle doen by elkeen volgens hulle getal.
NUM 15:13 Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring.
NUM 15:14 En as 'n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en 'n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei--soos julle doen, so moet hy doen.
NUM 15:15 Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. 'n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees.
NUM 15:16 Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.
NUM 15:17 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
NUM 15:18 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,
NUM 15:19 moet julle, as julle van die brood van die land eet, 'n offergawe aan die HERE afgee.
NUM 15:20 As eersteling van julle growwe meel moet julle 'n koek as offergawe afgee; net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee.
NUM 15:21 Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle 'n offergawe aan die HERE gee in julle geslagte.
NUM 15:22 Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die HERE aan Moses meegedeel het nie--
NUM 15:23 alles wat die HERE julle deur Moses beveel het van die dag af dat die HERE dit beveel het en verder in julle geslagte--
NUM 15:24 dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in swakheid gebeur het, een jong bul berei vir 'n brandoffer as lieflike geur aan die HERE, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby behoort; en een bokram as sondoffer.
NUM 15:25 En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want 'n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die HERE en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die HERE gebring.
NUM 15:26 Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom.
NUM 15:27 En as 'n enkele siel in swakheid sondig, moet dié 'n jaaroud bokooi as sondoffer bring.
NUM 15:28 En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die HERE begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word.
NUM 15:29 Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef--een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen.
NUM 15:30 Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.
NUM 15:31 Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.
NUM 15:32 En toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak.
NUM 15:33 En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring.
NUM 15:34 En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie.
NUM 15:35 Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig.
NUM 15:36 Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die HERE Moses beveel het.
NUM 15:37 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
NUM 15:38 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die hoekklossies 'n draad van pers stof vasbind.
NUM 15:39 En dit sal julle as klossies dien: as julle dit sien, moet julle aan al die gebooie van die HERE dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie,
NUM 15:40 sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig mag wees.
NUM 15:41 Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle 'n God te wees. Ek is die HERE julle God.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com