Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Numbers 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36]

NUM 16:1 En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem,
NUM 16:2 en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.
NUM 16:3 En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?
NUM 16:4 Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval;
NUM 16:5 en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.
NUM 16:6 Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende,
NUM 16:7 en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!
NUM 16:8 Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi!
NUM 16:9 Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,
NUM 16:10 en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou--dat julle nou ook die priesteramp begeer?
NUM 16:11 Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?
NUM 16:12 En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.
NUM 16:13 Is dit nie genoeg dat jy ons uit 'n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?
NUM 16:14 Ook het jy ons nie gebring in 'n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.
NUM 16:15 Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die HERE gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.
NUM 16:16 Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die HERE is, jy en hulle en Aäron.
NUM 16:17 En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die HERE elkeen sy vuurpan, twee honderd en vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.
NUM 16:18 Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.
NUM 16:19 En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele vergadering.
NUM 16:20 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
NUM 16:21 Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in 'n oomblik verteer.
NUM 16:22 Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?
NUM 16:23 En die Here het met Moses gespreek en gesê:
NUM 16:24 Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!
NUM 16:25 Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan.
NUM 16:26 Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.
NUM 16:27 En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.
NUM 16:28 Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:
NUM 16:29 as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die HERE my nie gestuur nie.
NUM 16:30 Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het.
NUM 16:31 En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was,
NUM 16:32 en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.
NUM 16:33 So het hulle dan met alles wat hulle s'n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
NUM 16:34 En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons!
NUM 16:35 Toe het 'n vuur van die HERE uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.
NUM 16:36 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
NUM 16:37 Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig--
NUM 16:38 naamlik die vuurpanne van die wat gesondig het ten koste van hulle lewe; en daarvan moet dun plate geslaan word as 'n oortreksel vir die altaar. Want hulle het dié voor die aangesig van die HERE gebring--daarom is hulle heilig; en hulle sal vir die kinders van Israel 'n teken wees.
NUM 16:39 Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as 'n oortreksel vir die altaar--
NUM 16:40 'n aandenking vir die kinders van Israel, sodat 'n onbevoegde wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nie sal nader kom om reukwerk voor die aangesig van die HERE aan die brand te steek nie; sodat hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos die HERE aan hom deur die diens van Moses gesê het.
NUM 16:41 Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die HERE gedood.
NUM 16:42 En terwyl die vergadering teen Moses en Aäron bymekaarkom, het hulle hul na die tent van samekoms gedraai, en meteens het die wolk dit oordek en die heerlikheid van die HERE het verskyn.
NUM 16:43 En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom,
NUM 16:44 het die HERE met Moses gespreek en gesê:
NUM 16:45 Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in 'n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig,
NUM 16:46 en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die HERE se aangesig uitgegaan, die plaag het begin!
NUM 16:47 Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.
NUM 16:48 En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.
NUM 16:49 En die wat deur die plaag gesterf het, was veertien duisend sewe honderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.
NUM 16:50 Daarop gaan Aäron na Moses terug by die ingang van die tent van samekoms; en die plaag is gestuit.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com