Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Numbers 18

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36]

NUM 18:1 En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra.
NUM 18:2 En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is.
NUM 18:3 En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie.
NUM 18:4 Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en 'n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie.
NUM 18:5 En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie.
NUM 18:6 Want Ek self het julle broers, die Leviete, onder die kinders van Israel uit geneem as 'n geskenk vir julle, mense wat aan die HERE gegee is om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig.
NUM 18:7 Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As 'n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word.
NUM 18:8 Verder het die HERE met Aäron gespreek: Ek self het jou die diens van my offergawes gegee; wat betref al die heilige gawes van die kinders van Israel, aan jou gee Ek dit as aandeel en aan jou seuns as ewige insetting.
NUM 18:9 Van die hoogheilige gawes, met uitsondering van wat verbrand word, moet dít joue wees: al hulle offers, naamlik elke spysoffer en elke sondoffer en elke skuldoffer van hulle, wat hulle My bring--as iets hoogheiligs moet dit vir jou en jou seuns wees.
NUM 18:10 In 'n hoogheilige plek moet jy dit eet; almal wat manlik is, mag dit eet; heilig moet dit vir jou wees.
NUM 18:11 Dit moet ook joue wees: die offergawe van hulle geskenke, van al die beweegoffers van die kinders van Israel; Ek gee dit aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as 'n ewige insetting. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.
NUM 18:12 Al die beste van die olie en al die beste van die mos en die koring, die eerste daarvan wat hulle aan die HERE gee, dit gee Ek aan jou.
NUM 18:13 Die eerstelinge van alles wat in hulle land is, wat hulle aan die HERE bring, moet joue wees. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.
NUM 18:14 Alles wat onder die ban is in Israel, moet joue wees.
NUM 18:15 Alles wat die moederskoot open--alle vlees wat hulle vir die HERE aanbring, mense en diere--moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop.
NUM 18:16 En wat die loskoping daarvan aangaan: vanaf 'n maand oud moet jy loskoop, volgens jou skatting, vir 'n geldsom van vyf sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; dit is twintig gera.
NUM 18:17 Maar die eersgeborene van 'n bees of die eersgeborene van 'n skaap of die eersgeborene van 'n bok moet jy nie loskoop nie; heilig is hulle; hulle bloed moet jy uitgooi teen die altaar en hulle vet aan die brand steek as 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
NUM 18:18 En hulle vleis moet joue wees; soos die bors van die beweegoffer en die regterboud moet dit joue wees.
NUM 18:19 Al die offergawes van die heilige dinge wat die kinders van Israel aan die HERE afgee, gee Ek aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as 'n ewige insetting. Dit is 'n ewige soutverbond voor die aangesig van die HERE, vir jou en jou nageslag saam met jou.
NUM 18:20 Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.
NUM 18:21 En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms.
NUM 18:22 En die kinders van Israel moet nie meer nader kom na die tent van samekoms om sonde op hulle te laai sodat hulle sterwe nie.
NUM 18:23 Maar die Leviete, dié moet die dienswerk by die tent van samekoms verrig, en húlle moet hul ongeregtigheid dra--'n ewige insetting in julle geslagte. En onder die kinders van Israel moet hulle geen erfdeel kry nie.
NUM 18:24 Want die tiendes van die kinders van Israel wat hulle aan die HERE as offergawe afgee, gee Ek aan die Leviete as erfdeel. Daarom het Ek aangaande hulle gesê: Hulle moet onder die kinders van Israel geen erfdeel kry nie.
NUM 18:25 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
NUM 18:26 Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan 'n offergawe aan die HERE afgee, 'n tiende van die tiende.
NUM 18:27 En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip.
NUM 18:28 Só moet julle ook 'n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee.
NUM 18:29 Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.
NUM 18:30 Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip.
NUM 18:31 En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle 'n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms.
NUM 18:32 En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com