Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Ezekiel 16

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48]

EZEK 16:1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
EZEK 16:2 Mensekind, maak aan Jerusalem sy gruwels bekend
EZEK 16:3 en sê: So spreek die Here HERE tot Jerusalem: Jou afkoms en jou geboorte is uit die land van die Kanaäniete; jou vader was 'n Amoriet en jou moeder 'n Hetitiese vrou.
EZEK 16:4 En wat jou geboorte aangaan--die dag toe jy gebore is, is jou nawelstring nie afgesny nie; en jy is nie met water gewas om jou te reinig nie; ook is jy nie met sout ingevrywe of in doeke toegedraai nie.
EZEK 16:5 Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is.
EZEK 16:6 En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!
EZEK 16:7 Ontelbaar, soos die uitspruitsels van die veld, het Ek jou gemaak! En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was naak en bloot.
EZEK 16:8 En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou 'n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne geword.
EZEK 16:9 Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf.
EZEK 16:10 Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.
EZEK 16:11 Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en 'n ketting om jou hals.
EZEK 16:12 En Ek het 'n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en 'n pragtige kroon op jou hoof.
EZEK 16:13 Ja, jy het jou versier met goud en silwer, en jou klere was fyn linne en sy en veelkleurige stowwe; jy het fynmeel en heuning en olie geëet, en jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het.
EZEK 16:14 Daarby het daar 'n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE.
EZEK 16:15 Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees.
EZEK 16:16 En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer--dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie.
EZEK 16:17 Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer.
EZEK 16:18 En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit.
EZEK 16:19 En my brood wat Ek jou gegee het--fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het--dit het jy voor hulle neergesit as 'n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE.
EZEK 16:20 Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie,
EZEK 16:21 dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het?
EZEK 16:22 Ook het jy by al jou gruwels en jou hoererye nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en bloot was en gelê en spartel het in jou bloed.
EZEK 16:23 En ná al jou boosheid--wee, wee jou! spreek die Here HERE--
EZEK 16:24 het jy vir jou 'n verwulf gebou en vir jou 'n hoogte gemaak op elke plein;
EZEK 16:25 by elke uitdraaiplek het jy jou hoogte gebou en jou skoonheid geskend en jou sonder skaamte aangebied aan elkeen wat verbygaan, en jy het jou hoererye vermenigvuldig.
EZEK 16:26 Jy het ook gehoereer met die kinders van Egipte, jou baie sinlike nabure; en jy het jou hoerery vermenigvuldig om My te terg.
EZEK 16:27 En kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek en die vir jou bestemde deel verminder; en Ek het jou oorgegee aan die hebsug van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel.
EZEK 16:28 Verder het jy gehoereer met die kinders van Assur, omdat jy nie bevredig was nie; ja, jy het met hulle gehoereer en is tog nie bevredig nie.
EZEK 16:29 En jy het jou hoerery vermenigvuldig na die koopmansland, na Chaldéa; en ook daarmee is jy nie bevredig nie.
EZEK 16:30 Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here HERE, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van 'n onbeskaamde hoer;
EZEK 16:31 dat jy jou verwulf by elke uitdraaiplek gebou en jou hoogte op elke plein gemaak het! Maar jy was nie eens soos 'n hoer nie, deurdat jy hoereloon gering geag het.
EZEK 16:32 o Die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem.
EZEK 16:33 Hulle gee geskenke aan al die hoere, maar jy het jou geskenke aan al jou minnaars gegee en hulle gifte aangebied om van alle kante na jou te kom in jou hoererye.
EZEK 16:34 So was daar dan by jou in jou hoererye net die teendeel van die vroue, omdat hulle jou nie agternageloop het om te hoereer nie, en deurdat jy hoereloon gegee het terwyl aan jou geen hoereloon gegee is nie; daarom was jy die teendeel.
EZEK 16:35 Daarom, o hoer, hoor die woord van die HERE.
EZEK 16:36 So sê die Here HERE: Omdat jou koper uitgestort is en jou skaamte ontbloot is deur jou hoererye met jou minnaars en met al jou afskuwelike drekgode, en vanweë die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het,
EZEK 16:37 daarom, kyk, Ek sal al jou minnaars versamel vir wie jy aangenaam was, en almal wat jy liefgehad het, saam met almal wat jy gehaat het; en Ek sal hulle van alle kante teen jou versamel en jou naaktheid vir hulle ontbloot, sodat hulle jou hele naaktheid kan sien.
EZEK 16:38 En Ek sal jou oordeel volgens die verordeninge van vroue wat owerspel bedrywe en bloed vergiet, en sal jou oorgee aan die bloedige dood van grimmigheid en naywer.
EZEK 16:39 En Ek sal jou in hulle hand oorgee, en hulle sal jou verwulf afbreek en jou hoogtes omgooi en jou jou klere uittrek en jou versiersels wegneem en jou naak en bloot laat staan.
EZEK 16:40 Dan sal hulle teen jou 'n menigte laat optrek en jou stenig en jou met hulle swaarde stukkend kap.
EZEK 16:41 Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal 'n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.
EZEK 16:42 En Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen jou--dan sal my ywer van jou afwyk, en Ek sal stil word en nie meer toornig wees nie.
EZEK 16:43 Omdat jy nie gedink het aan die dae van jou jeug nie en my toorn opgewek het met al hierdie dinge--kyk, so sal Ek dan ook jou wandel op jou hoof laat neerkom, spreek die Here HERE; en het jy dan nie die skandelike daad gedoen bo al jou gruwels nie?
EZEK 16:44 Kyk, elkeen wat spreekwoorde maak, sal 'n spreuk op jou toepas, naamlik: Soos die moeder, so haar dogter.
EZEK 16:45 Jy is die dogter van jou moeder, wat 'n afsku gehad het van haar man en haar kinders; en jy is die suster van jou susters, wat 'n afsku gehad het van hulle mans en hulle kinders: julle moeder was 'n Hetitiese vrou, en julle vader 'n Amoriet.
EZEK 16:46 En jou groot suster is Samaría, sy met haar dogters wat woon aan jou linkerkant; maar jou suster wat kleiner as jy is, wat aan jou regterkant woon, is Sodom met haar dogters.
EZEK 16:47 Maar jy het nie gewandel in hulle weë en nie gehandel volgens hulle gruwels nie; net 'n kort rukkie--en jy het verderfliker gehandel as hulle in al jou weë.
EZEK 16:48 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, jou suster Sodom, sy met haar dogters, het nie gehandel soos jy gehandel het, jy met jou dogters nie.
EZEK 16:49 Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie.
EZEK 16:50 En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.
EZEK 16:51 Samaría het ook nie die helfte van jou sondes gedoen nie: jy het gruwels vermenigvuldig, meer as hulle, en jy het jou susters geregverdig deur al jou gruwels wat jy gedoen het.
EZEK 16:52 Dra dan ook jou skande, jy wat vir jou susters ingetree het: deur jou sondes wat jy gruweliker gemaak het as hulle, is hulle regverdiger as jy. Skaam jou dan ook, en dra jou skande, omdat jy jou susters geregverdig het.
EZEK 16:53 En Ek sal hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters, en die lot van Samaría en haar dogters; en Ek sal jou lot verander tussen dié twee in;
EZEK 16:54 dat jy jou skande kan dra en jou kan skaam oor alles wat jy gedoen het deur hulle te troos.
EZEK 16:55 En jou susters, Sodom met haar dogters, sal na hulle vorige toestand terugkeer; en Samaría met haar dogters sal na hulle vorige toestand terugkeer; en jy met jou dogters sal na julle vorige toestand terugkeer.
EZEK 16:56 Ja, die naam van jou suster Sodom is in jou mond nie gehoor in die dag van jou trotsheid nie,
EZEK 16:57 voordat jou boosheid geopenbaar is, soos in die tyd van versmading deur die dogters van Aram en deur almal wat daar rondom was--die dogters van die Filistyne--wat jou van alle kante verag het.
EZEK 16:58 Jou skandelike daad en jou gruwels moet jy dra, spreek die Here HERE.
EZEK 16:59 Want so sê die Here HERE: Ja, Ek doen aan jou soos jy gedoen het, wat die eedswering geminag het deur die verbond te verbreek.
EZEK 16:60 Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou 'n ewige verbond oprig.
EZEK 16:61 Dan sal jy aan jou weë dink en skaam wees, as jy jou susters aanneem wat groter is as jy, by dié wat kleiner is as jy, en Ek hulle aan jou as dogters gee; al is dit nie kragtens die verbond met jou nie.
EZEK 16:62 En Ek sal my verbond met jou oprig, en jy sal weet dat Ek die HERE is;
EZEK 16:63 sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het, spreek die Here HERE.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com