Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Ezekiel 39

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48]

EZEK 39:1 En jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal.
EZEK 39:2 En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel.
EZEK 39:3 Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.
EZEK 39:4 Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee.
EZEK 39:5 Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE.
EZEK 39:6 En Ek sal 'n vuur slinger in Magog en onder hulle wat in die kuslande veilig woon; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
EZEK 39:7 En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, die Heilige in Israel.
EZEK 39:8 Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here HERE. Dit is die dag waarvan Ek gespreek het.
EZEK 39:9 En die inwoners van die stede van Israel sal uitgaan en vuur maak en stook met die wapens: klein en groot skilde, met boë en pyle en knopkieries en spiese; en hulle sal daarmee vuur maak sewe jaar lank;
EZEK 39:10 sodat hulle geen hout uit die veld sal dra of in die bosse sal kap nie, maar met die wapens vuur sal maak; en hulle sal plunder die wat hulle geplunder het, en berowe die wat hulle beroof het, spreek die Here HERE.
EZEK 39:11 En in dié dag sal Ek aan Gog 'n plek gee waar 'n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte.
EZEK 39:12 En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank.
EZEK 39:13 En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here HERE.
EZEK 39:14 Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle 'n ondersoek instel,
EZEK 39:15 en sien een van hulle wat deur die land trek, 'n mensebeen, dan rig hy daarby 'n merkteken op, totdat die begrawers dit begrawe het in die dal van Gog se menigte.
EZEK 39:16 En ook sal die naam van 'n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.
EZEK 39:17 En jy, mensekind, so spreek die Here HERE: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, 'n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed!
EZEK 39:18 Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink--ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam--
EZEK 39:19 vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het.
EZEK 39:20 En julle sal aan my tafel versadig word van perde en ruiters, van helde en alle soorte krygsmanne, spreek die Here HERE.
EZEK 39:21 En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelê het.
EZEK 39:22 En die huis van Israel sal weet dat Ek die HERE hulle God is, van dié dag af en verder.
EZEK 39:23 En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het.
EZEK 39:24 Volgens hulle onreinheid en hulle oortredinge het Ek met hulle gehandel en my aangesig vir hulle verberg.
EZEK 39:25 Daarom, so sê die Here HERE: Nou sal Ek die lot van Jakob verander en My ontferm oor die hele huis van Israel en ywer vir my heilige Naam.
EZEK 39:26 En hulle sal hul smaad vergeet en al hul ontrou wat hulle teen My begaan het, as hulle in hul land veilig woon en daar niemand is wat hulle verskrik nie.
EZEK 39:27 As Ek hulle terugbring uit die volke en hulle versamel uit die lande van hulle vyande, sal Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van baie nasies.
EZEK 39:28 En hulle sal weet dat Ek, die HERE, hulle God is, daaraan dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land en dáár niemand meer uit hulle agter laat bly het nie.
EZEK 39:29 En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here HERE.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com