Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Ezekiel 17

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48]

EZEK 17:1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
EZEK 17:2 Mensekind, gee 'n raaisel op aan die huis van Israel en dra 'n gelykenis voor
EZEK 17:3 en sê: So spreek die Here HERE: Die groot arend met groot vleuels, met lang vlerke, vol vere wat veelkleurig was, het na die Líbanon gekom en die top van die seder weggeneem.
EZEK 17:4 Hy het die boonste van sy jong takkies afgepluk en dit na die koopmansland gebring; hy het dit neergesit in die stad van koopmans.
EZEK 17:5 Hy het ook van die saad van die land geneem en dit in 'n saailand geplant; hy het dit na baie waters weggeneem, dit as oewergewas geplant.
EZEK 17:6 En dit het uitgespruit en 'n breë wingerdstok geword, laag van groei, sodat sy ranke na die arend kon draai en sy wortels onder hóm kon wees. So het dit dan 'n wingerdstok geword, en dit het lote gemaak en lootjies uitgeskiet.
EZEK 17:7 En daar was nog 'n groot arend met groot vleuels en baie vere; en kyk, hierdie wingerdstok het sy wortels na hóm toe gebuig en sy ranke na hom toe uitgeskiet uit die beddings waar dit geplant was, dat hy dit sou bevogtig.
EZEK 17:8 Dit was in 'n goeie land by baie waters geplant om ranke te maak en vrugte te dra, om 'n pragtige wingerdstok te word.
EZEK 17:9 Sê: So spreek die Here HERE: Sal dit voorspoedig wees? Sal hy nie die wortels daarvan uitruk en die vrugte daarvan afsny, sodat dit verdroog, ja, verdroog in al sy uitgespruite blaartjies nie? En dit nie deur 'n magtige arm en baie mense om dit van sy wortels af uit te lig nie.
EZEK 17:10 Ja, kyk, dit is geplant--sal dit voorspoedig wees? Sal dit nie heeltemal verdroog as die oostewind hom aanraak, verdroog op die beddings waar dit uitgespruit het nie?
EZEK 17:11 Daarna het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
EZEK 17:12 Spreek tog met die wederstrewige huis: Weet julle nie wat hierdie dinge beteken nie? Sê: Kyk, die koning van Babel het na Jerusalem gekom en sy koning en sy vorste weggeneem en hulle na hom toe, na Babel gebring.
EZEK 17:13 Toe het hy een uit die koninklike geslag geneem en met hom 'n verbond gesluit en hom 'n eed opgelê, maar die magtiges van die land het hy weggeneem;
EZEK 17:14 sodat die koninkryk van geringe betekenis sou wees en hom nie sou verhef nie, maar dat dit, deur sy verbond te onderhou, in stand kon bly.
EZEK 17:15 Maar hy het teen hom in opstand gekom deur sy gesante na Egipte te stuur, dat hulle hom perde en baie manskappe sou gee. Sal hy voorspoedig wees? Sal hy ontvlug wat sulke dinge doen? Sal hy die verbond verbreek en tog ontvlug?
EZEK 17:16 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, in die plek waar die koning woon wat hom koning gemaak het, wie se eed hy geminag en wie se verbond hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterwe.
EZEK 17:17 Ook sal Farao nie met hom saamspan in die oorlog met 'n groot leër en met baie mense nie, as hulle 'n wal opwerp en forte bou om baie siele uit te roei.
EZEK 17:18 Want hy het die eed geminag deur die verbond te verbreek; en kyk, hy het sy hand gegee en tog al hierdie dinge gedoen; hy sal nie ontvlug nie.
EZEK 17:19 Daarom, so sê die Here HERE: So waar as Ek leef, Ek sal gewis my eed wat hy geminag het, en my verbond wat hy verbreek het, op sy hoof laat neerkom.
EZEK 17:20 En Ek sal my net oor hom uitsprei, en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel bring en daar met hom na die gereg gaan, weens die troubreuk wat hy teen My begaan het.
EZEK 17:21 En al sy vlugtelinge in al sy leërs sal deur die swaard val, en die wat oorgebly het, sal na al die windstreke verstrooi word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek het.
EZEK 17:22 So sê die Here HERE: Dan sal Ek self van die verhewe top van die seder 'n steggie neem en dit insit--van die boonste van sy lootjies sal Ek 'n teer puntjie afpluk en self dit plant op 'n hoë en verhewe berg.
EZEK 17:23 Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal takke voortbring en vrugte dra en 'n heerlike seder word, sodat al die voëls van allerhande vere daaronder kan woon; in die skaduwee van sy takke sal hulle woon.
EZEK 17:24 En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die HERE, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog het; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die HERE, het dit gespreek en gedoen.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com