Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Ezekiel 31

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48]

EZEK 31:1 En in die elfde jaar, in die derde maand, op die eerste van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
EZEK 31:2 Mensekind, sê aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy menigte: Na wie lyk jy in jou grootheid?
EZEK 31:3 Kyk, Assur was 'n seder op die Líbanon, skoon van takke en 'n skaduryke bos en hoog van groei; en sy top was tussen die wolke.
EZEK 31:4 Waters het hom grootgemaak; die watervloed het hom hoog laat groei, wat met sy strome gegaan het rondom die plek waar hy geplant was, en sy watervore uitgestuur het na al die bome van die veld.
EZEK 31:5 Daarom het hy hoër gegroei as al die bome van die veld, en het sy takke baie geword en sy takkies lank, weens die groot waters toe hy uitgeskiet het.
EZEK 31:6 Al die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke, en al die wilde diere van die veld het onder sy takkies aangeteel, en allerhande groot volke het onder sy skaduwee gaan sit.
EZEK 31:7 En hy het skoon geword in sy grootheid, in die lengte van sy takke, omdat sy wortel by groot waters was.
EZEK 31:8 Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie, en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie.
EZEK 31:9 Ek het hom mooi gemaak deur die menigte van sy takke, sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het.
EZEK 31:10 Daarom, so het die Here HERE gesê: Omdat hy hoog uitgegroei het, en hy sy top tussen die wolke verhef het en hoogmoedig geword het oor sy hoogte,
EZEK 31:11 sal Ek hom oorgee in die hand van die magtige onder die nasies; dié sal sekerlik met hom handel; vanweë sy goddeloosheid het Ek hom uitgedrywe.
EZEK 31:12 Vreemdes, die geweldigste nasies, het hom afgekap en hom neergewerp; op die berge en in al die dale het sy takke geval, en sy takkies is stukkend gebreek in al die klowe van die land; en al die volke van die aarde het uit sy skaduwee weggegaan en hom so laat lê.
EZEK 31:13 Al die voëls van die hemel het gaan sit op sy omgevalle stam, en al die wilde diere van die veld was op sy takkies;
EZEK 31:14 sodat al die bome wat by water staan, nie hoog sou groei en hulle top nie sou verhef tussen die wolke nie, en hulle magtiges nie sou gaan staan in hulle hoogheid, almal wat water drink nie! Want hulle is almal oorgegee aan die dood om te gaan na die onderste van die aarde, onder die mensekinders, na die wat in die kuil neerdaal.
EZEK 31:15 So sê die Here HERE: Op die dag toe hy na die doderyk neergedaal het, het Ek laat treur: Ek het om sy ontwil die watervloed oordek en die strome daarvan teruggehou, sodat die groot waters gestuit is; en Ek het om sy ontwil die Líbanon in swart gehul, en al die bome van die veld het gesmag om sy ontwil.
EZEK 31:16 Deur die geluid van sy val het Ek die nasies laat bewe, toe Ek hom na die doderyk laat neerdaal het saam met die wat in die kuil neerdaal; en al die bome van Eden, die uitgesoektes en bestes van die Líbanon, almal waterdrinkers, het hulleself getroos in die onderste van die aarde.
EZEK 31:17 Hulle het ook saam met hom neergedaal na die doderyk, na die wat verslaan is deur die swaard, ook sy helpers wat in sy skaduwee gesit het onder die nasies.
EZEK 31:18 Na wie lyk jy so in heerlikheid en grootheid onder die bome van Eden? En tog sal jy neergewerp word saam met die bome van Eden na die onderste van die aarde; tussen die onbesnedenes sal jy lê, saam met die wat verslaan is deur die swaard. Dit is Farao en sy hele menigte, spreek die Here HERE.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com