Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 11

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 11:1 En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.
GEN 11:2 En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle 'n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon.
GEN 11:3 Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.
GEN 11:4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.
GEN 11:5 Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het.
GEN 11:6 En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.
GEN 11:7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.
GEN 11:8 So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou.
GEN 11:9 Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde verstrooi.
GEN 11:10 Dit is die stamboom van Sem: Toe Sem honderd jaar oud was, het hy die vader van Arpagsad geword, twee jaar ná die vloed.
GEN 11:11 En Sem het ná die geboorte van Arpagsad nog vyf honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:12 Toe Arpagsad vyf en dertig jaar oud was, het hy die vader van Selag geword.
GEN 11:13 En Arpagsad het ná die geboorte van Selag nog vier honderd en drie jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:14 Toe Selag dertig jaar oud was, het hy die vader van Heber geword.
GEN 11:15 En Selag het ná die geboorte van Heber nog vier honderd en drie jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:16 Toe Heber vier en dertig jaar oud was, het hy die vader van Peleg geword.
GEN 11:17 En Heber het ná die geboorte van Peleg nog vier honderd en dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:18 Toe Peleg dertig jaar oud was, het hy die vader van Rehu geword.
GEN 11:19 En Peleg het ná die geboorte van Rehu nog twee honderd en nege jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:20 Toe Rehu twee en dertig jaar oud was, het hy die vader van Serug geword.
GEN 11:21 En Rehu het ná die geboorte van Serug nog twee honderd en sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:22 Toe Serug dertig jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword.
GEN 11:23 En Serug het ná die geboorte van Nahor twee honderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:24 Toe Nahor nege en twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword.
GEN 11:25 En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd en negentien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.
GEN 11:26 Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.
GEN 11:27 En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot.
GEN 11:28 En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs.
GEN 11:29 En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska.
GEN 11:30 En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.
GEN 11:31 En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon.
GEN 11:32 En die dae van Tera was twee honderd en vyf jaar, en Tera het in Haran gesterwe.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com