Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 27

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 27:1 Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek!
GEN 27:2 Toe sê hy: Kyk tog, ek het oud geword, ek weet die dag van my dood nie.
GEN 27:3 Neem dan nou tog jou wapens, jou pylkoker en jou boog, en gaan uit in die veld en jag vir my 'n stuk wild
GEN 27:4 en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.
GEN 27:5 En Rebekka het geluister terwyl Isak met sy seun Esau spreek. En Esau het in die veld gegaan om 'n stuk wild te jag en dit te bring.
GEN 27:6 Toe het Rebekka met haar seun Jakob gespreek: Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en sê:
GEN 27:7 Bring vir my 'n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan seën voor die aangesig van die HERE voor my dood.
GEN 27:8 My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel.
GEN 27:9 Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan 'n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê.
GEN 27:10 Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood.
GEN 27:11 Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka: Kyk, my broer Esau is 'n harige man en ek is 'n gladde man.
GEN 27:12 Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos 'n spotter; so sou ek dan 'n vloek oor my bring en nie 'n seën nie.
GEN 27:13 Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my.
GEN 27:14 Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan 'n lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou hê.
GEN 27:15 Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;
GEN 27:16 en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek,
GEN 27:17 en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun.
GEN 27:18 Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?
GEN 27:19 En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.
GEN 27:20 Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die Here u God dit my laat teëkom het.
GEN 27:21 En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie.
GEN 27:22 En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.
GEN 27:23 Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën.
GEN 27:24 Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja.
GEN 27:25 Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.
GEN 27:26 Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun!
GEN 27:27 En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die HERE geseën het.
GEN 27:28 En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos.
GEN 27:29 Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees 'n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.
GEN 27:30 Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,
GEN 27:31 en hy maak ook 'n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën.
GEN 27:32 En sy vader Isak vra hom: Wie is jy? En hy antwoord: Ek is u seun Esau, u eersgeborene.
GEN 27:33 Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën--ook sal hy geseënd bly!
GEN 27:34 Toe Esau die woorde van sy vader hoor, skreeu hy met 'n baie groot en bitter geroep, en hy sê vir sy vader: Seën my ook, my vader!
GEN 27:35 En hy antwoord: Jou broer het gekom met bedrog en jou seën weggeneem.
GEN 27:36 Daarop sê hy: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?
GEN 27:37 Toe antwoord Isak en sê vir Esau: Kyk, ek het hom as heerser oor jou gestel en aan hom al sy broers as dienaars gegee; en ek het hom met koring en mos versorg. Wat kan ek dan nou vir jóu doen, my seun?
GEN 27:38 Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën my ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.
GEN 27:39 Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo.
GEN 27:40 En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.
GEN 27:41 En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.
GEN 27:42 Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.
GEN 27:43 My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban,
GEN 27:44 en bly 'n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar,
GEN 27:45 tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?
GEN 27:46 Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob 'n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land--waarvoor lewe ek dan?

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com