Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 47

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 47:1 Daarop het Josef gekom en aan Farao vertel en gesê: My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kanaän, en daar is hulle nou in die land Gosen.
GEN 47:2 En hy het uit die getal van sy broers vyf man saamgeneem en hulle aan Farao voorgestel.
GEN 47:3 Toe sê Farao aan sy broers: Wat is julle nering? En hulle antwoord Farao: U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons vaders.
GEN 47:4 Verder sê hulle vir Farao: Ons het gekom om as vreemdelinge in die land te vertoef, want daar is geen weiding vir die kleinvee van u dienaars nie, omdat die hongersnood in die land Kanaän swaar is. Laat u dienaars dan nou tog in die land Gosen woon.
GEN 47:5 Daarop het Farao met Josef gespreek en gesê: Jou vader en jou broers het na jou gekom.
GEN 47:6 Egipteland lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder hulle bekwame manne is, stel hulle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom.
GEN 47:7 Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het Farao gegroet met 'n seënwens.
GEN 47:8 Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare?
GEN 47:9 En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.
GEN 47:10 Toe het Jakob Farao gegroet met 'n seënwens en van Farao af weggegaan.
GEN 47:11 En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Raämses, soos Farao beveel het.
GEN 47:12 En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.
GEN 47:13 En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood.
GEN 47:14 En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring.
GEN 47:15 En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan?
GEN 47:16 En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is.
GEN 47:17 Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee.
GEN 47:18 Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s'n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond.
GEN 47:19 Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie.
GEN 47:20 So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword.
GEN 47:21 En wat die volk betref--hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.
GEN 47:22 Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie; want die priesters het 'n vaste inkomste van Farao ontvang en van hulle vaste inkomste geëet wat Farao hulle toegestaan het. Daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.
GEN 47:23 Toe sê Josef aan die volk: Kyk, ek het vandag julle en jul grond vir Farao gekoop: daar is saadkoring vir julle, dat julle die grond kan besaai.
GEN 47:24 En by die insameling moet julle 'n vyfde deel aan Farao afgee, en die ander vier dele sal julle eiendom wees, as saad vir die land en as voedsel vir julleself en die wat in julle huise is, en as voeding vir julle kinders.
GEN 47:25 En hulle antwoord: U het ons lewe gered. Laat ons guns mag vind in die oë van my heer, dan sal ons die dienaars van Farao wees.
GEN 47:26 En Josef het dit 'n wet gemaak tot vandag toe vir die saaigrond van Egipte--die vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie.
GEN 47:27 So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.
GEN 47:28 En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.
GEN 47:29 En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou--begrawe my tog nie in Egipte nie.
GEN 47:30 Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.
GEN 47:31 Toe sê hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com