Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 25

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 25:1 En Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ketúra.
GEN 25:2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar.
GEN 25:3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete.
GEN 25:4 En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra.
GEN 25:5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,
GEN 25:6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.
GEN 25:7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar.
GEN 25:8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.
GEN 25:9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
GEN 25:10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.
GEN 25:11 Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.
GEN 25:12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het--
GEN 25:13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam
GEN 25:14 en Misma en Duma en Massa,
GEN 25:15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
GEN 25:16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.
GEN 25:17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.
GEN 25:18 En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
GEN 25:19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.
GEN 25:20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het.
GEN 25:21 En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.
GEN 25:22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.
GEN 25:23 En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
GEN 25:24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.
GEN 25:25 En die eerste is gebore--rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.
GEN 25:26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.
GEN 25:27 En die seuns het opgegroei: Esau het 'n ervare jagter geword, 'n man van die veld; maar Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
GEN 25:28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.
GEN 25:29 En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.
GEN 25:30 Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
GEN 25:31 En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
GEN 25:32 En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
GEN 25:33 Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.
GEN 25:34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com