Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 41

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 41:1 Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan;
GEN 41:2 en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
GEN 41:3 En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander koeie op die wal van die Nyl gaan staan.
GEN 41:4 En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword.
GEN 41:5 En hy het weer aan die slaap geraak en nog 'n keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel;
GEN 41:6 en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei was;
GEN 41:7 en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was 'n droom!
GEN 41:8 Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie.
GEN 41:9 Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.
GEN 41:10 Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers.
GEN 41:11 En ons het in dieselfde nag 'n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen 'n droom met besondere betekenis.
GEN 41:12 En daar was by ons 'n Hebreeuse jongman, 'n kneg van die owerste van die lyfwag--aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee.
GEN 41:13 En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur--my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.
GEN 41:14 Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.
GEN 41:15 Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.
GEN 41:16 En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee.
GEN 41:17 Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,
GEN 41:18 en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
GEN 41:19 En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.
GEN 41:20 En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet:
GEN 41:21 dié het in hulle maag ingegaan, maar 'n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword.
GEN 41:22 Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel.
GEN 41:23 En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was;
GEN 41:24 en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie.
GEN 41:25 Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee.
GEN 41:26 Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde.
GEN 41:27 En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees.
GEN 41:28 Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien.
GEN 41:29 Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland;
GEN 41:30 maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer.
GEN 41:31 En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees.
GEN 41:32 En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is--dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.
GEN 41:33 Laat Farao dan nou uitkyk na 'n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland.
GEN 41:34 Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland.
GEN 41:35 En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre.
GEN 41:36 So sal dan die voedsel 'n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.
GEN 41:37 En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars.
GEN 41:38 Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is?
GEN 41:39 En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.
GEN 41:40 Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy.
GEN 41:41 Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.
GEN 41:42 Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang
GEN 41:43 en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.
GEN 41:44 En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.
GEN 41:45 En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.
GEN 41:46 En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek.
GEN 41:47 En die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed.
GEN 41:48 Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom het, en voedsel in die stede weggesit--die voedsel van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit.
GEN 41:49 So het Josef dan 'n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.
GEN 41:50 En vir Josef is twee seuns gebore--voordat die jaar van hongersnood gekom het--wat Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.
GEN 41:51 En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.
GEN 41:52 En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.
GEN 41:53 Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde gekom,
GEN 41:54 en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood.
GEN 41:55 En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle sê.
GEN 41:56 En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die hongersnood was swaar in Egipteland.
GEN 41:57 En die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com