Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 49

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 49:1 Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.
GEN 49:2 Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!
GEN 49:3 Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!
GEN 49:4 Opbruising soos van waters--jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.
GEN 49:5 Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld.
GEN 49:6 Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.
GEN 49:7 Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.
GEN 49:8 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.
GEN 49:9 Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos 'n leeu en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag?
GEN 49:10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
GEN 49:11 Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.
GEN 49:12 Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.
GEN 49:13 Sébulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die skepe wees, met die sykant na Sidon toe.
GEN 49:14 Issaskar is 'n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale lê.
GEN 49:15 Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig.
GEN 49:16 Dan sal aan sy volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel.
GEN 49:17 Laat Dan 'n slang wees op die weg, 'n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval.
GEN 49:18 Op u verlossing wag ek, HERE!
GEN 49:19 Gad--'n bende sal hom aanval, maar hy sal hulle aan die hakskeen gryp.
GEN 49:20 Aser, sy spys is vet, en hy lewer koninklike lekkernye.
GEN 49:21 Náftali is soos 'n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor.
GEN 49:22 Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim oor die muur.
GEN 49:23 Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,
GEN 49:24 maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob--daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is,
GEN 49:25 van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot.
GEN 49:26 Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.
GEN 49:27 Benjamin is 'n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit.
GEN 49:28 Húlle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan hulle gesê het, en hy het hulle geseën; hy het hulle geseën, elkeen volgens sy besondere seën.
GEN 49:29 Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is;
GEN 49:30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaän; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as eiendomsgraf gekoop het.
GEN 49:31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe--
GEN 49:32 die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.
GEN 49:33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com