Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Genesis 32

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50]

GEN 32:1 Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet.
GEN 32:2 Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is 'n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.
GEN 32:3 En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom,
GEN 32:4 en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar--ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe;
GEN 32:5 en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë.
GEN 32:6 En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom.
GEN 32:7 Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel;
GEN 32:8 want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak.
GEN 32:9 En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen--
GEN 32:10 ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.
GEN 32:11 Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.
GEN 32:12 U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
GEN 32:13 En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, 'n geskenk geneem vir sy broer Esau:
GEN 32:14 twee honderd bokooie en twintig bokke, twee honderd skaapooie en twintig ramme,
GEN 32:15 dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels;
GEN 32:16 en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat 'n plek oop tussen trop en trop.
GEN 32:17 Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s'n is die goed daar voor jou?
GEN 32:18 dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s'n. Dit is 'n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan.
GEN 32:19 En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry--
GEN 32:20 julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien--miskien sal hy my in guns aanneem.
GEN 32:21 So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die laer gebly.
GEN 32:22 En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek:
GEN 32:23 hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het.
GEN 32:24 Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek.
GEN 32:25 En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.
GEN 32:26 Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.
GEN 32:27 En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob.
GEN 32:28 Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.
GEN 32:29 Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën.
GEN 32:30 Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.
GEN 32:31 En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pnuel verby was; en hy was mank aan sy heup.
GEN 32:32 Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com