Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Proverbs 6

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31]

PROV 6:1 My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het,
PROV 6:2 verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,
PROV 6:3 doen dan dit, my seun, om jouself te red--want jy het in die hand van jou naaste geraak--gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,
PROV 6:4 gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;
PROV 6:5 red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
PROV 6:6 Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!
PROV 6:7 Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,
PROV 6:8 maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
PROV 6:9 Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?
PROV 6:10 Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!
PROV 6:11 So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man.
PROV 6:12 'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop,
PROV 6:13 wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;
PROV 6:14 in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.
PROV 6:15 Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.
PROV 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
PROV 6:17 trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
PROV 6:18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
PROV 6:19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
PROV 6:20 Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
PROV 6:21 bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;
PROV 6:22 mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.
PROV 6:23 Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,
PROV 6:24 om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
PROV 6:25 Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;
PROV 6:26 want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe.
PROV 6:27 Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?
PROV 6:28 Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
PROV 6:29 So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.
PROV 6:30 'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het;
PROV 6:31 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.
PROV 6:32 Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets;
PROV 6:33 slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
PROV 6:34 want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;
PROV 6:35 hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com