Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 10

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 10:1 Hoor die woord wat die HERE oor julle gespreek het, o huis van Israel!
JER 10:2 So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie.
JER 10:3 Want die insettinge van die volke is nietigheid; want 'n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van 'n ambagsman met die byl.
JER 10:4 Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.
JER 10:5 Soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.
JER 10:6 Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot, en u Naam is groot in krag.
JER 10:7 Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie.
JER 10:8 Maar almal saam word hulle dom en dwaas, die tugtiging van die nietige afgode--dit is hout.
JER 10:9 Silwer wat plat geslaan is, word uit Tarsis gebring en goud uit Ufas, die werk van die ambagsman en van die hande van die goudsmid; pers en purperrooi is hulle klere; 'n werk van kunstenaars is hulle almal.
JER 10:10 Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en 'n ewige Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie--
JER 10:11 so moet julle vir hulle sê: Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit--
JER 10:12 Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.
JER 10:13 As Hy sy stem laat hoor, is daar 'n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure.
JER 10:14 Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is 'n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
JER 10:15 Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
JER 10:16 Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; HERE van die leërskare is sy Naam.
JER 10:17 Tel jou pak goed van die grond af op, jy wat in die beleëring vertoef.
JER 10:18 Want so sê die HERE: Kyk, Ek slinger die inwoners van die land hierdie keer weg, en Ek doen hulle benoudheid aan, dat hulle kan vind.
JER 10:19 Wee my vanweë my verbreking! Smartlik is my wond! Ja, ék het gesê: Waarlik, dit is 'n lyding, en ek sal dit moet dra.
JER 10:20 My tent is verwoes, en al my lyne is afgeruk; my kinders het van my af weggegaan, en hulle is daar nie; daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie.
JER 10:21 Want die herders het dom geword en die HERE nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi.
JER 10:22 Hoor! 'n Gerug. Daar kom dit, en wel 'n groot geraas uit die Noordland, om die stede van Juda 'n woesteny te maak, 'n lêplek van jakkalse.
JER 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan 'n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
JER 10:24 Tugtig my, HERE, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie.
JER 10:25 Stort u grimmigheid uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor die geslagte wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob opgeëet, ja, hulle het hom opgeëet en hom verteer en sy woning verwoes.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com