Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 51

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 51:1 So sê die HERE: Kyk, Ek wek op teen Babel en teen die inwoners van "die Hart van my Teëstanders" die gees van 'n verwoester.
JER 51:2 En Ek sal vir Babel wanners stuur wat hom sal uitwan en sy land leegskud; want hulle lê rondom teen hom op die dag van onheil.
JER 51:3 Laat die skutter sy boog span teen hom wat span, en teen die een wat hom in sy pantser verhef; en spaar sy jongmanne nie, tref sy ganse leër met die banvloek!
JER 51:4 So sal daar dan gesneuweldes val in die land van die Chaldeërs en die wat deurboor is, op sy strate.
JER 51:5 Want Israel en Juda is nie in weduweeskap gelaat deur hulle God, deur die HERE van die leërskare nie, al was hulle land vol skuld voor die Heilige van Israel.
JER 51:6 Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die HERE: Hy gee hom sy verdiende loon.
JER 51:7 Babel was in die hand van die HERE 'n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword.
JER 51:8 Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word.
JER 51:9 Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.
JER 51:10 Die HERE het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die HERE onse God!
JER 51:11 Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die HERE het die gees van die konings van Médië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die HERE, die wraak van sy tempel.
JER 51:12 Hef 'n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die HERE Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.
JER 51:13 Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.
JER 51:14 Die HERE van die leërskare het by Homself gesweer: Al het Ek jou vol mense gemaak soos sprinkane, tog sal hulle oor jou 'n vreugdegeroep aanhef.
JER 51:15 Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand--
JER 51:16 as Hy sy stem laat hoor, is daar 'n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat die wind uitgaan uit sy voorraadskure.
JER 51:17 Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is 'n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
JER 51:18 Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
JER 51:19 Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; HERE van die leërskare is sy Naam.
JER 51:20 Jy is vir My 'n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies, en met jou verwoes Ek koninkryke.
JER 51:21 En met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter; en met jou verbrysel Ek die strydwa en die wat daarop ry.
JER 51:22 En Met jou verbrysel Ek man en vrou; en met jou verbrysel Ek grysaard en seun; en met jou verbrysel Ek die jongman en die jongedogter.
JER 51:23 En met jou verbrysel Ek die herder en sy trop vee; en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy twee osse; en met jou verbrysel Ek goewerneurs en owerstes.
JER 51:24 Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldéa vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die HERE.
JER 51:25 Kyk, Ek het dit teen jou, o berg wat verwoes, spreek die HERE; jy wat die hele aarde verwoes. En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak 'n afgebrande berg.
JER 51:26 En hulle sal uit jou geen klip neem vir 'n hoek of 'n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die HERE.
JER 51:27 Hef 'n banier op oor die aarde, blaas die basuin onder die nasies, heilig nasies teen hom, roep teen hom op die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas, stel 'n kommandant teen hom aan, laat perde optrek soos stekerige sprinkane!
JER 51:28 Heilig nasies teen hom, die konings van Médië, die goewerneurs en al die owerstes daarvan, ja, die hele land van sy heerskappy.
JER 51:29 Dan bewe die aarde en krimp inmekaar; want die gedagtes van die HERE kom tot stand teen Babel, om die land van Babel 'n woesteny te maak, sonder inwoner.
JER 51:30 Die helde van Babel het opgehou om te veg, hulle het gebly in die bergvestings; hulle mag het verdwyn, hulle het vroue geword. Hulle het sy wonings aan die brand gesteek, sy grendels is verbreek.
JER 51:31 Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babel bekend te maak dat sy stad van alle kante ingeneem is;
JER 51:32 en dat die driwwe beset is, en hulle die rietvleie met vuur verbrand het, en die krygsmanne verskrik is.
JER 51:33 Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Die dogter van Babel is soos 'n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; nog 'n kort rukkie, dan kom die oestyd vir hom.
JER 51:34 Nebukadrésar, die koning van Babel, het my opgeëet, my vernietig; hy het my neergesit soos 'n leë skottel; hy het my verslind soos 'n draak; hy het sy buik met my lekkernye gevul; hy het my weggestoot.
JER 51:35 Laat die inwoners van Sion sê: Die geweld en die verminking wat my aangedoen is, is op Babel! En laat Jerusalem sê: My bloed is op die inwoners van Chaldéa!
JER 51:36 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek verdedig jou saak en sal vir jou wraak neem; en Ek sal sy see droogmaak en sy fontein laat opdroë.
JER 51:37 En Babel sal kliphope word, 'n lêplek van jakkalse, 'n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner.
JER 51:38 Almal saam brul hulle soos jong leeus, brom soos klein leeutjies.
JER 51:39 As hulle verhit is, berei Ek hulle maaltyd en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate word en 'n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie, spreek die HERE.
JER 51:40 Ek sal hulle afbring soos lammers om geslag te word, soos ramme saam met bokke.
JER 51:41 Hoe is Sesag ingeneem en die roem van die hele aarde verower! Hoe het Babel 'n voorwerp van verbasing geword onder die nasies!
JER 51:42 Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.
JER 51:43 Sy stede het 'n woesteny geword, 'n dor land en 'n wildernis; 'n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.
JER 51:44 En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.
JER 51:45 Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!
JER 51:46 En laat julle hart nie week wees, sodat julle bevrees word by die tyding wat in die land gehoor word nie, as daar 'n tyding kom in die een jaar, en daarna 'n tyding in die ander jaar, en daar geweld is in die land, heerser teen heerser.
JER 51:47 Daarom, kyk, daar kom dae dat Ek besoeking sal doen oor die gesnede beelde van Babel; en sy hele land sal beskaamd staan, en al sy gesneuweldes sal daarin val.
JER 51:48 Dan sal oor Babel juig hemel en aarde en alles wat daarin is; want uit die noorde kom die verwoesters oor hom, spreek die HERE.
JER 51:49 Ook Babel moet val, o gesneuweldes van Israel, soos ook vir Babel geval het die gesneuweldes van die hele aarde.
JER 51:50 Vrygeraaktes van die swaard, gaan weg, bly nie staan nie, dink aan die HERE uit die verte, en laat Jerusalem in julle hart opkom!
JER 51:51 Ons staan beskaamd, want ons het smaadwoorde gehoor, skande het ons aangesig bedek; want vreemdes het gekom oor die heiligdomme van die huis van die HERE.
JER 51:52 Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor sy gesnede beelde; en die gewondes sal kerm in sy hele land.
JER 51:53 Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk--van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die HERE.
JER 51:54 Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs;
JER 51:55 want die HERE verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm.
JER 51:56 Want 'n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want 'n God van vergelding is die HERE; Hy sal gewis vergelde.
JER 51:57 En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap 'n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is HERE van die leërskare.
JER 51:58 So sê die HERE van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte sal met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.
JER 51:59 Die woord waarmee die profeet Jeremia bevel gegee het aan Serája, die seun van Nería, die seun van Magséja, toe hy saam met Sedekía, die koning van Juda, na Babel getrek het, in die vierde jaar van sy regering. En Serája was laerkommandant.
JER 51:60 En Jeremia het in 'n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is.
JER 51:61 En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde;
JER 51:62 en sê: o HERE, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees.
JER 51:63 En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy 'n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi
JER 51:64 en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; en hulle sal afgemat wees. Tot sover die woorde van Jeremia.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com